• Tuisblad
  • Howe
  • Maier-moord ’n klad op toerisme se naam, sê regter

Maier-moord ’n klad op toerisme se naam, sê regter

Twee beskuldigdes hoor hul lot
Die regter het bevind die twee beskuldigdes het met 'n gemeenskaplike doel opgetree toe hulle in 2015 Andi Maier en sy meisie beroof en ontvoer en hom vermoor het.
Iréne-Mari van der Walt
Regter Herman January sê die twee mans wat in Junie vanjaar skuldig bevind is aan die moord op die toergids Andi Maier in 2015, het Namibië se reputasie as ’n toeristebestemming skade berokken.

Die beskuldigdes is effektief onderskeidelik 25 en 45 jaar tronkstraf opgelê.

“Dit is bekend dat Namibië – nasionaal en internasionaal – ’n toeriste-aantreklikheid is. Nie net was hierdie misdaad skokkend hier in Namibië nie, maar dit het ook ’n impak internasionaal gehad. Dit weerspieël dat ons land na beide kante toe nie veilig is nie.

“Dit is omdat sekere misdaad-gesinde individue wat gierig is vir hul persoonlike en individuele belange nie die ekonomiese voordele wat [Namibië] nasionaal, internasionaal en wêreldwyd verkry vir almal in ag neem om veiligheid en voorspoed te geniet nie,” het hy gesê.

Walter Lwendo Lupalwezi is tot 25 jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op Maier en 15 jaar vir sy poging om Maier se meisie te verkrag. Ndozi Ndozi is tot 20 jaar tronkstraf gevonnis vir sy aandeel in Maier se moord.

January het bevind dat, met die uitsondering van die poging tot verkragting deur Lupalwezi, hulle met ’n gemeenskaplike doel opgetree het toe hulle Maier en sy meisie beroof en ontvoer en Maier vermoor het.

Maier het in 2015 saam met sy meisie in die Mundumo Nasionale Park gekamp. Die twee mans het gewag dat die paartjie gaan slaap voor een van hulle die tent geskud en hulle beveel het om uit te kom.

Die mans het hulle meegedeel dat hulle gewapen is en die egpaar van hul voertuig, kontant en ander besittings beroof.

Daarna is die paartjie se hande agter hul rûe vasgebind en die mans het hulle ontvoer. Die voertuig waarmee hulle gery het, kon later nie meer verder beweeg nie en hulle het Maier en sy meisie uit die motor gedwing.

Lupalwezi en Ndozi wou na bewering na ’n punt gaan waar ’n derde man, Harris Kamuhelo Sijiwa, hulle glo moes oplaai. Sijiwa het saam met Lupalwezi en Ndozi tereggestaan, maar is vrygespreek.

Lupalwezi het in daardie stadium Maier se meisie met ’n mes begin dreig en gesê hy gaan haar verkrag. Maier het sy hande bevry en tot sy vriendin se redding probeer kom toe Lupalwezi hom met die mes gesteek het. Ndozi het ook glo toe vir Maier begin aanrand. Hy het later aan sy steekwonde beswyk.

Die regter het gesê ’n brief van Lupalwezi ná hul skuldigbevinding dui daarop dat Ndozi, wat 21 jaar oud was ten tyde van die moord, waarskynlik deur Lupalwezi beïnvloed is.

In die handgeskrewe brief pleit Lupalwezi by die regter dat Ndozi vrygespreek moet word omdat hy nie ’n mes gehad het nie en dat die misdade weens Lupalwezi se optrede plaasgevind het.

Ondanks die feit dat Lupalwezi volle verantwoordelikheid vir die misdaad in die geskrewe dokument aanvaar, bevraagteken January Ndozi se onskuld op grond van hul gemeenskaplike doel.

Die twee mans is elk tot 10 jaar tronkstraf gevonnis vir roof met verswarende omstandighede en vyf jaar elk vir die ontvoering. Die vonnis op die ontvoering is ten volle opgeskort op voorwaarde dat hulle nie binne vyf jaar na hul vrylating weer hierdie misdaad pleeg nie.

Vyf jaar van die vonnis op die roofklag sal samelopend met die moordvonnis uitgedien word en dus sal hulle effektief vyf jaar minder agter tralies wees.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 26° Rundu: 19° | 34° Eenhana: 22° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 21° | 34° Tsumeb: 20° | 33° Otjiwarongo: 19° | 33° Omaruru: 20° | 34° Windhoek: 22° | 32° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 16° | 20° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 17° | 21° Rehoboth: 22° | 33° Mariental: 22° | 35° Keetmanshoop: 19° | 34° Aranos: 22° | 34° Lüderitz: 16° | 29° Ariamsvlei: 19° | 35° Oranjemund: 16° | 25° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 21° | 28° Lubumbashi: 17° | 22° Mbabane: 18° | 28° Maseru: 18° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 19° | 24° Maputo: 23° | 34° Windhoek: 22° | 32° Cape Town: 19° | 23° Durban: 22° | 28° Johannesburg: 17° | 24° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 18° | 25° Harare: 17° | 21° #REF! #REF!