Man beplan glo huurmoord op sy seun

Alles vir versekeringsuitbetaling van N$2 miljoen
Die mans wat genader is om die huurmoord uit te voer, was glo ongemaklik met die opdrag en het die polisie oor die komplot gewaarsku.
Yandi Du Plessis
Elizabeth //Kheibes en Toivo Ndjebela

Die Namibiese polisie (Nampol) het Maandag ’n 51-jarige man in Windhoek in hegtenis geneem nadat hy na bewering mense gehuur het om sy 29-jarige seun te vermoor – klaarblyklik om toegang tot ’n versekeringsuitbetaling van N$2 miljoen te kry.

George Kashava is borgtog geweier toe hy Woensdag voor landdros Johannes Shuuveni verskyn het.

Hy het glo ’n huurmoord op sy seun, Willem Kashava, beplan, maar die komplot is betyds gefnuik, met polisiebronne wat sê die jong man was “baie gelukkig om nog te lewe”.

George het glo mans gehuur om sy seun dood te skiet in ruil vir ’n ongespesifiseerde bedrag geld. Die mans was egter glo ongemaklik met die opdrag en het die polisie oor die komplot gewaarsku en saam met wetstoepassers begin werk om die moordplan te stuit.

DIE PLAN

George het na bewering sy seun se bewegings dopgehou en eendag die voornemende huurmoordenaars ingelig waar Willem was sodat hulle hom vir ’n bepaalde tydperk kon ontvoer en hom dan doodmaak.

Teen hierdie tyd het die mans reeds saam met die polisie gewerk. Hulle het na die plek gery waar Willem – wat heeltemal in die duister was oor sy pa se komplot – inderdaad gevind is, volgens George se instruksies.

Willem is toe onder polisiebeskerming geplaas. Die mans het vir George gesê sy seun word gevange gehou en dat hy op ’n ooreengekome datum doodgemaak sou word.

George het intussen ’n plakkaat geskep wat aanmeld dat sy seun vermis word en die polisie vooruitgeloop deur hulle in te lig dat sy seun weg is.

FOP-MOORDTONEEL

Op die ooreengekome datum het die polisie ’n fop-moordtoneel opgestel wat afgeneem en aan die pa gewys is as bewys dat die werk gedoen is.

George het belowe om sy deel van die ooreenkoms na te kom en die mans verseker dat hy hulle sou betaal sodra ’n plaaslike versekeringsmaatskappy die geld aan hom sou uitbetaal.

Dae later het die pa die polisie in kennis gestel dat hy ’n oproep van ’n anonieme nommer ontvang het, wat hom meegedeel het dat ’n liggaam wat na sy seun lyk iewers in Windhoek gevind is.

Hy het beamptes gestuur na die vervalste “moordtoneel” wat die polisie self uitgelê het.

George is Maandag op dié toneel in hegtenis geneem. Willem ondergaan tans berading met die hulp van die polisie.

GEEN BORG

George het Woensdag in die Katutura-landdroshof verskyn op aanklag van sameswering om ’n misdaad te pleeg, poging tot moord, bedrog en regsverydeling of dwarsboming van die gereg.

Sy saak is tot 16 Januarie 2024 vir verdere ondersoeke uitgestel.

Staatsaanklaer Cuthbert Lusipani het gesê dit is in die publiek se belang dat hy in polisie-aanhouding by die Windhoek sentrale gevangenis gehou word.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!