• Tuisblad
  • Howe
  • Man kry 25 jaar vir verkragting, bloedskande
Foto ter illustrasie/Pexels/Katerina Bolovtsova
Foto ter illustrasie/Pexels/Katerina Bolovtsova

Man kry 25 jaar vir verkragting, bloedskande

Iréne-Mari van der Walt
’n Vier-en-vyftigjarige man is gister in die hoërhof in Windhoek tot 25 jaar tronkstraf gevonnis vir die verkragting van sy dogter.

Hy is van verkragting en bloedskande aangekla en is onderskeidelik 18 en sewe jaar tronkstraf vir die twee aanklagte opgelê.

Regter Claudia Claasen het die man net minder as ’n maand gelede skuldig bevind, nadat sy beslis het dat die dogter se getuienis geloofwaardig is ondanks die feit dat sy die saak in ’n stadium teruggetrek en erken het dat sy vir die polisie gejok het.

Die man is onskuldig bevind op drie ander aanklagte – almal wat verband hou met kinderhandel – wat spruit uit bewerings dat hy sy dogter onwettig na Angola geneem het. Claasen het die man ook onskuldig bevind op ’n klag van aanranding deur dreigement weens teenstrydige getuienisse.

Die dogter het aan die hof gesê haar pa het haar tussen 2010 en 2012 herhaaldelik verkrag en getuig dat dit die eerste keer gebeur het toe sy 15 jaar oud was en sy saam met hom by Jakkalsputz gekamp het.

Nadat sy in 2012 vir haar tannie in Windhoek gesê het haar pa “maak haar sy vrou”, het ’n dokter bevind dat sy swanger was.

Die hoof- forensiese beampte van die Namibiese polisie se Forensiese Wetenskapsinstituut, Maryn de Klerk, het getuig sy het DNS-profilering op die plasenta gedoen en gevind daar is ’n 99,996% kans dat die man die baba se pa is.

DNS-toetse het ook bewys dat die waarskynlikheid dat die man die dogter se biologiese pa was, 99,986% is.

Die man het in die hof gesê hy het een oggend in Angola naak in die bed wakker geword met sy dogter langs hom, maar dat hy nie kan onthou hoe hy daar gekom het nie.

Claasen het aangevoer dis ’n taktiek om strafregtelike gevolge in Namibië te ontduik en terselfdertyd die swangerskap te verduidelik.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!