Foto argief
Foto argief

Man kwytgeskeld ná oortreding by grenspos

Die hoërhof in Windhoek het Dinsdag die bevel tersyde gestel wat vereis het dat die man se voertuig aan die staat verbeurd verklaar moet word.
Kristien Kruger
’n Man wat tot 24 maande tronkstraf gevonnis is nadat hy versuim het om invoerbelasting vir sy voertuig by ’n grenspos te betaal, is Dinsdag kwytgeskeld en vrygespreek.

Shivute Ericky Shipanga wou glo die invoerbelasting van N$3 000 vir sy voertuig wat hy in Botswana gekoop het op 29 Augustus 2023 by die Trans-Khalahari-grenspos betaal, maar hy het nie genoeg kontant by hom gehad nie.

Nadat hy ingelig is dat daar geen OTM-geriewe by die grenspos is nie, het hy sy voertuig geneem en na Gobabis gery, glo om geld te trek.

Op pad terug van Gobabis na die grenspos, is hy gearresteer. Daar is ook op sy voertuig – ’n wit Volkswagen Golf 6 – beslag gelê en is later aan die staat verbeurd verklaar.



SKULDIG GEPLEIT

Met die aanvang van sy verhoor in die Gobabis-landdroshof het Shipanga skuld beken op die aanklagte waarop hy tereggestaan het en wat verband hou met die oortreding van die wet op doeane- en aksyns.

Hy is gevolglik tot ’n boete van N$8 000 of 24 maande tronkstraf gevonnis.

Shipanga het in Maart vanjaar teen sy skuldigbevinding en vonnisoplegging in die hoërhof in Windhoek geappelleer.



APPÈL

Tydens die aanhoor van die appèlaansoek het Shipanga se regsverteenwoordiger aangevoer dat hy nie die aanklagte wat teen hom gebring is, behoorlik verstaan het nie en dat die landdros dit moes besef het.

Daar is aangevoer dat sy skulderkenning dus misplaas is weens sy gebrek aan kennis, veral ten opsigte van die wet.

Die staat het aangevoer Shipanga het aangedui dat hy die aanklag verstaan het voordat hy skuldig gepleit het en dat hy geweet het hy moes die voertuig verklaar en die koste moes betaal het.

“Die appellant het erken dat hy nie toestemming van enige gemagtigde beampte gekry het om Namibië binne te gaan nie,” het die staat in hul hofstukke gesê.



UITSPRAAK

Regters Herman January en Dinnah Usiku het Dinsdag in Shipanga se guns beslis en beveel dat hy kwytgeskeld en uit aanhouding vrygelaat moet word.

Verder het hulle ook die bevel tersyde gestel wat vereis het dat Shipanga se voertuig aan die staat verbeurd verklaar moes word.

“Die landdros het ’n fout begaan met betrekking tot die toepassing van die wet en het versuim om die element van opset in ag te neem deurdat die appellant geen bedoeling gehad het om die voertuig onwettig na Namibië te smokkel nie,” lui die uitspraak.

Die regters het verder beslis dat die landdros versuim het om vas te stel wat Shipanga se bedoelings was.

“Die landdros moes ’n pleit van onskuldig aangeteken het, aangesien die appellant die verweer geopper het dat hy na Gobabis gery het om geld te trek omdat hy nie geld by hom gehad het nie en verder dat daar geen OTM-geriewe by die grenspos was nie.

“Hy kon net sowel na sy bestemming gery het as hy die bedoeling gehad het om die betaling te ontduik,” lui die uitspraak.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 30° Rundu: 19° | 33° Eenhana: 19° | 31° Oshakati: 21° | 29° Ruacana: 20° | 33° Tsumeb: 18° | 28° Otjiwarongo: 17° | 25° Omaruru: 19° | 29° Windhoek: 19° | 28° Gobabis: 20° | 25° Henties Bay: 17° | 21° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 18° | 22° Rehoboth: 20° | 29° Mariental: 20° | 31° Keetmanshoop: 19° | 32° Aranos: 20° | 29° Lüderitz: 16° | 27° Ariamsvlei: 20° | 34° Oranjemund: 16° | 23° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 29° Lubumbashi: 18° | 20° Mbabane: 19° | 30° Maseru: 17° | 19° Antananarivo: 14° | 29° Lilongwe: 19° | 24° Maputo: 26° | 40° Windhoek: 19° | 28° Cape Town: 18° | 22° Durban: 22° | 27° Johannesburg: 18° | 24° Dar es Salaam: 25° | 29° Lusaka: 18° | 24° Harare: 17° | 22° #REF! #REF!