Man skuldig ná kinders mesaanval aanskou
Verweer van selfverdediging misluk
Die man wat sy lewensmaat drie jaar gelede 16 keer in hul slaapkamer met 'n mes gesteek het, is Vrydag aan moord skuldig bevind.
Twee minderjarige kinders moes in 2021 toekyk hoe hul ma se lewensmaat haar met ’n mes doodsteek.
Hulle was destyds nege en 14 jaar oud toe hul ma, Ndapandula Ndinelago, vir hulle geskree het om haar te help. Hulle het gesien hoe haar lewensmaat bo-op haar sit en haar met ’n kombuismes aanval. Sy is 16 keer gesteek en is oomblikke later weens bloedverlies dood.
Henock Negodhi (44) is Vrydag in die hoërhof in Windhoek aan moord skuldig bevind.
Die voorval het op 25 Desember 2021 in die informele nedersetting Mix in Windhoek plaasgevind.
Al twee Ndinelago se kinders, waarvan een Negodhi se biologiese kind is, het tydens die verhoor getuig.
Hulle het gesê hulle het omstreeks 02:00 wakker geword en hul ma hoor skree: “Help my! Hy is besig om my dood te maak!”
SELFVERDEDIGING
Negodhi en Ndinelago was 13 jaar lank in ’n verhouding en hoewel Negodhi erken het dat hy haar met die mes gesteek het, het hy aangevoer dit was uit selfverdediging tydens ’n bakleiery.
Hy het tydens die verhoor getuig Ndinelago het die mes onder ’n kussing op die bed uitgehaal en hom daarmee aangeval. Hy het verder aangevoer dat hy die mes ná ’n stoeiery by haar afgeneem het. Hy meen hy het geen bedoeling gehad om haar dood te maak nie.
January het egter in sy uitspraak bevind Negodhi het die aanval beplan. Die uitspraak verwys na die getuienis van een van die kinders wat glo gesien het hoe Negodhi ure voor die moord die mes onder die kussing sit.
“Hy het dit beplan en sy plan uitgevoer. Hy het haar in ’n vlaag van woede [. . .] aangeval. Hy het ’n doelbewuste bedoeling gehad,” lui die uitspraak.
January het ook verwys na die getuienis van die dokter wat die nadoodse ondersoek uitgevoer het. Sy het gevind dat Ndinelago verdedigingswonde aan haar hande en arms gehad het wat bewys het dat sy probeer terugveg het.
Negodhi het ook erken hy het ná die voorval na nabygeleë bosse gegaan en die aand daar geslaap.
“Die beskuldigde het die toneel verlaat sonder om die oorledene te help,” het January in sy uitspraak benadruk.
Die meswonde was op Ndinelago se nek, bors en bolyf en het haar hart, longe en lewer getref.
Die dokter het getuig haar organe was wit, wat ’n aanduiding is dat sy baie vinnig doodgebloei en weens bloedverlies gesterf het.
GETUIES
Verskeie inwoners van die informele nedersetting Mix was staatsgetuies tydens die verhoor.
Ndinelago se buurvrou het getuig die kinders het haar kom roep. Sy het glo deur ’n gleufie in die huis by die egpaar se slaapkamer ingeloer en Ndinelago se liggaam op die bed sien lê.
Een van die inwoners het ook getuig sy het gesien hoe Negodhi sy hemp uittrek en sy bebloede hande daarmee afvee.
VOLGENDE VERSKYNING
Negodhi se regsverteenwoordiger, Mbanga Siyomuinji, het homself aan die saak onttrek nadat die staat hul saak gesluit het.
Dit was glo op grond van teenstrydige instruksies. Negodhi is sedertdien sonder regsverteenwoordiging.
Negodhi sal weer op 2 Desember in die hof verskyn om ter versagting van sy vonnis te argumenteer, terwyl die staat betoë sal lewer ter ondersteuning van ’n strawwer vonnis.
Die staatsaanklaer het reeds aangedui dat hulle van voorneme is om een getuie tydens hierdie verrigtinge te roep.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie