Die ministerie van justisie se kantoor op Gobabis. Foto Kristien Kruger
Die ministerie van justisie se kantoor op Gobabis. Foto Kristien Kruger

Man vas ná hy vrou glo doodry

Sowat 100 onderteken petisie
'n Man (23) van Gobabis wat teregstaan op 'n klag van moord, is verlede week borgtog geweier.
Kristien Kruger
Die man wat daarvan beskuldig word dat hy ’n 38-jarige onderwyseres en ma van vyf in Gobabis doodgery het, is verlede week borgtog geweier.

Dit volg nadat meer as 100 gemeenskapslede ’n petisie onderteken het dat hy nie op borgtog vrygelaat moet word nie.

Denzil Dawids is op 1 Oktober in hegtenis geneem en is sedertdien in aanhouding. Sy aansoek om borgtog is verlede week in die landdroshof op Gobabis van die hand gewys en sy saak is tot 12 Februarie 2024 uitgestel.

Dié 23-jarige het na bewering Yolande Snyder McCallum op dieselfde dag met sy voertuig in Nossobville gestamp nadat hy in ’n bakleiery met haar seun betrokke geraak het.

“Hy het die straat af gejaag en oor die sypaadjie in die rigting van die vrou, haar seun en sy vriende gery. Die oorledene het haar seun uit die pad gestamp, maar kon haarself nie betyds red nie,” het die polisie se hoofondersoekbeampte tydens die borgtogaansoek getuig.

McCallum se regterbobeen is beseer nadat sy glo met die impak teen ’n ander voertuig gestamp is. Sy is na die hospitaal geneem waar sy weens ’n verlies aan bloed dood is. Nege ooggetuies het na bewering die insident aanskou.

Dawids het na glo, nadat hy die oorledene gestamp het, sy voertuig afgeskakel, met ’n sambok uitgeklim en die oorledene se seun en sy vriende na bewering aangerand.

Die oorledene se suster het ook tydens die borgtogaansoek getuig.

VERWEER

Dawids het tydens sy borgtogaansoek beweer hy kan niks van die voorval onthou nie aangesien hy met ’n bottel op sy voorkop geslaan is.

Die staatsaanklaer, Marshal Hoeb, het wel aangevoer hy moet borgtog geweier word op grond van ’n petisie wat onderteken is en die bewering dat dit nie in die publieke belang of die belang van geregtigheid sal wees as hy op borgtog vrygelaat word nie.

Hoeb het ook aangevoer die erns van die oortreding en die feit dat die staat ’n sterk saak teen Dawids het, in ag geneem moet word.

Dawids het reeds aangedui hy beplan om aan die begin van sy verhoor, onskuldig te pleit op ’n klag van moord waarop hy teregstaan.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer