Die hoërhof in Windhoek Foto argief
Die hoërhof in Windhoek Foto argief

Mans nader hof ná beskuldiging van moord

Eis altesaam byna ’n miljoen
Die polisie staar 'n hofeis in die gesig deur twee Rehobothers wat beweer hulle is verkeerdelik gearresteer en tydens ondervraging aangerand.
Kristien Kruger
Twee mans van Rehoboth eis elk duisende dollar van die polisie omdat hulle glo verkeerdelik in hegtenis geneem is vir ’n moord wat hulle nie gepleeg het nie. Hulle beweer verder hulle is aangerand deur polisiebeamptes tydens ondervraging.

Peter-George Busch (20) en Fasley Geraldo De Klerk (39) beweer hulle is op 4 Julie 2022 verkeerdelik en onwettiglik gearresteer in verband met die moord op Bradwin Diergaardt.

“Die verweerders [polisiebeamptes] het hulle gearresteer en aangehou sonder redelike vermoede of waarskynlike oorsaak dat hulle die moord gepleeg het,” lui Busch en De Klerk se eisbesonderhede.

Hulle beweer hulle is vir sowat 56 ure by Rehoboth se polisiekantoor aangehou waartydens hulle glo geweldadig ondervra is.

‘AANRANDING’

“[Busch en De Klerk] is deur die verweerders [twee polisiebeamptes] gedreig en afgekraak in 'n poging om inligting van hulle te onttrek. Hulle het herhaaldelik aangedui dat hulle geen kennis dra van die beweerde moord nie, wat die verweerders tot so 'n mate kwaad gemaak het dat een van hulle 'n swart plastiek 'sjambok' gaan haal het waarmee hy die eerste eiser [Busch] oor sy rug geslaan het.”

Volgens die twee mans se eisbesonderhede het Busch as gevolg hiervan aan erge pyn en angs gely.

“Hy het verder 'n dik rooi seerplek oor sy rug opgedoen van die impak van die 'sjambok',” beweer die mans in hofstukke.

Hulle voer verder ook aan dat De Klerk deur een van die polisiebeamptes in die maag geslaan is tydens een van die uitgerekte ondervragings.

“Hulle het geen bedreiging vir die beskuldigdes of enige ander polisiebeampte ingehou ten tyde van hierdie wrede aanrandings nie.”

Die mans beweer hulle is aangehou in 'n baie vuil, stink sel van ongeveer 4m x 4m sonder kos, matrasse of komberse.

“Hulle is tussen meer as 30 onbekende mans aangehou tot ongeveer 16:00 op 6 Julie 2022 toe hulle vrygelaat is sonder om aangekla te word,” lui die hofstukke.

BEWERINGS ONTKEN

Die ministerie en polisie het in hul pleitstukke erken dat die twee mans op 4 Julie in hegtenis geneem is, maar beweer dit was op grond van die redelike vermoede dat hulle die moord gepleeg het.

“Die voorlopige ondersoek het daarop gedui dat die twee mans die laaste mense was wat saam met die oorledene gesien is.”

Die verweerders verduidelik verder dat die mans binne 48 uur weer vrygelaat is, nadat verdere gevolgtrekkings op grond van die ondersoek gemaak is.

Hulle beweer verder die mans was vrygelaat “vry van beserings” en ontken dat hulle die mans gedreig, afgeknou of aangerand het.

“Die verweerders pleit dat die arrestasie en aanhouding nie onwettig, arbitrêr of onregmatig was nie, maar dat dit eerder op regverdigbare gronde bewerkstellig is,” lui die pleitstukke wat in Maart vanjaar by die hof ingedien is.

EISE

Die mans eis elkeen N$460 000 in skadevergoeding; N$200 000 vir beweerde onregmatige arrestasie en aanhouding, N$200 000 vir die beweerde aanranding deur beamptes en N$60 000 vir regskoste.

Busch en De Klerk het in Januarie verlede jaar ’n saak aanhangig gemaak teen die minister van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit, die inspekteur-generaal van die Namibiese polisie en drie polisiebeamptes van die Rehoboth polisiekantoor, insluitend die stasiebevelvoerder van die kantoor, Theresia Ndjavera. Partye het Woensdag voor regter Collin Parker in die hoërhof in Windhoek verskyn vir voorverhoorverrigtinge. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!