Maree se verhoor wéér uitgestel
Johann Maree se verhoor wat reeds in Augustus sou begin, is Maandag vir die derde keer uitgestel.
Die vermeende pedofiel Johann Maree wat daarvan beskuldig word dat hy talle jong seuns in Windhoek seksueel misbruik en pornografiese beeldmateriaal op die donker web versprei het, se verhoor is Maandag weer eens uitgestel.
Maree se derde regshulpprokureur, Meriam Kandoni, het tydens die verrigtinge in die hoërhof in Windhoek haar kennisgewing van onttrekking ingedien. Dit is die tweede prokureur om te onttrek as gevolg van Maree se teenstrydige en onuitvoerbare instruksies.
“Dit lyk asof jy [Maree] elke keer die saak in die wiele ry sodat ons nie met hierdie saak kan begin nie,” het regter Philanda Christiaan gesê.
Toe sy hom vra oor die pad vorentoe, het hy Kandoni om verskoning gevra en gevra dat sy as sy regsverteenwoordiger aanbly. Christiaan het aangedui dit is onmoontlik aangesien sy reeds onttrek het.
Christiaan het daarna die saak tot 28 November uitgestel vir verdere voorverhoorverrigtinge om vir Maree geleentheid te gee om vir nog ’n regshulpprokureur aansoek te doen.
“Op daardie dag sal ons ’n datum skeduleer vir die verhoor en ons sal voortgaan – met of sonder ’n regsverteenwoordiger,” het Christiaan aan Maree gesê.
Die verhoor sou reeds in Augustus vanjaar begin het. Dit is egter tot September uitgestel aangesien Maree se vorige verteenwoordiger, Tuna Nhinda, onttrek het. Ná nog ’n vertraging, sou die verhoor na verwagting Maandag begin het met Maree wat sou pleit en die eerste getuies wat geroep sou word.
‘STRUIKELBLOKKE’
Maree het tydens Maandag se verrigtinge versoek om ’n stapel handgeskrewe papiere in te dien.
Dit gaan glo oor verskeie “struikelblokke” wat hy ervaar ten opsigte van medikasie wat hy moet ontvang terwyl hy in aanhouding is en die bewering dat die tronkowerhede nie bereid is om die gevangenes na die regshulpkantoor te neem nie.
Hy het ook aangevoer dat die ondersoekbeampte wat vir sy saak verantwoordelik is, aan die tronkowerhede gesê het om hom te verbied om met sekere mense te praat wat hy as getuies wil roep. Hy moet glo met hulle praat om vir sy verhoor voor te berei.
“Ek wil dit indien sodat die hof kan ingryp,” het hy gesê.
Christiaan het sy versoek van die hand gewys en gesê hy moet sy kwessies met die personeel van die Namibiese korrektiewe dienste opneem.
Maree staan tereg op 75 klagte en verdere verhoordatum is reeds vooruit geskeduleer vir Februarie volgende jaar.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie