Die vermeende pedofiel, Johann Maree, se verhoor is weereens uitgestel. Foto Argief
Die vermeende pedofiel, Johann Maree, se verhoor is weereens uitgestel. Foto Argief

Maree se verhoor wéér vertraag

Uitgestel tot 27 Febraurie
Nadat Maree se huidige prokureur homself aan die saak onttrek het, sal hy binnekort ongeveer sy vyfde regsverteenwoordiger bekom voor sy verhoor kan begin.
Kristien Kruger
Die vermeende pedofiel wat na bewering talle jong seuns in Windhoek seksueel mishandel het, Johann Maree, se verhoor is gister vir ongeveer die sesde keer uitgestel.

Dié keer is dit weens die onttrekking van sy huidige regsverteenwoordiger, Milton Engelbrecht. Dit is minstens die vierde prokureur wat op rekord gegaan het om Maree te verteenwoordig sedert sy arrestasie in April 2020.

Engelbrecht is deur regshulp aangestel om Maree te verteenwoordig. Hy het egter sy kennisgewing om homself aan die saak te onttrek op 29 Januarie ingedien.

Hy het gister aan die hof verduidelik nadat die dossier aan hom oorhandig is en ná die openbaarmaking van die hofdokumente (disclosure), het hy besef hy ken een van die vermeende slagoffers.

“Ek onttrek daarom weens etiese redes,” het hy gesê.

Hy het wel die boodskap oorgedra dat ’n nuwe regshulpverteenwoordiger aan Maree toegewys sal word.

Regter Philanda Christiaan het die saak tot 27 Februarie uitgestel.

VERTRAGINGS

Maree se verhoor was die eerste keer geskeduleer om in Augustus verlede jaar te begin waarop hy op die 75 aanklagte teen hom sou pleit en die staat daarna hul eerste getuies sou roep.

Dit is egter in Augustus tot September uitgestel aangesien Maree se voormalige regsverteenwoordiger, Tuna Nhinda, hom aan die saak onttrek het. ’n Nuwe verteenwoordiger wat aan hom toegewys is, het ook kort daarna haarself aan die saak onttrek.

Maree moes in Desember verlede jaar weer in die hof verskyn het, maar sy verhoor kon nie voortgaan nie weens die uitbreking van waterpokkies in die Windhoek Sentrale Gevangenis waar hy tans in aanhouding is.

AANKLAGTE

Maree het voor hy in hegtenis geneem is, in die visier van buitelandse owerhede beland weens sy bedrywighede op die donker web en die beweerde verspreiding van kinderpornografie.

Hy staan tereg op 75 klagte wat onder meer insluit 24 aanklagte van verkragting, 18 aanklagte van kinderhandel, tien aanklagte van die gebruik van ’n minderjarige om pornografie te vervaardig, die pleeg van onsedelike dade op ’n minderjarige kind en die aanmoediging of toelating dat ’n kind onder die ouderdom van 16 drank inneem.

Ná ’n aansoek om psigiatriese evaluering wat Maree verlede jaar gebring het, is dit bevind dat hy geskik is om verhoor te word en aanspreeklik gehou kan word vir sy beweerde dade. Hy het destyds gesê hy kan niks van die misdrywe onthou wat die staat beweer hy gepleeg het nie.

Maree was voor sy inhegtenisname ’n fotograaf en polisiereservis.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!