Ma’s eis N$2 m. vir elke kind

Andjamba destyds beskuldig van mensehandel
'n Hofbevel is in Desember 2022 uitgereik wat beslis het dat die vier seuns vrygelaat en in hul ouers se toesig geplaas moet word.
Kristien Kruger
Die biologiese ma’s van vier minderjarige Angolese seuns wat vir vier jaar onder die ministerie in die presidensie verantwoordelik vir geslagsgelykheid, armoede-uitwissing en maatskaplike welsyn se toesig was, eis nou dat elke kind N$2 miljoen moet ontvang.

Die seuns het in 2018 saam met die sakeman Simon Andjamba vanaf Angola na Namibië gereis waarna Andjamba in 2020 in hegtenis geneem en van mensehandel aangekla is. Die staat het destyds aangevoer hy het die seuns onwettig die land binnegebring om hulle vir goedkoop arbeid uit te buit.

Die kinders is by ’n onbekende ligging aangehou tot die ma’s genoeg geld ingesamel het om na Namibië te reis. Hulle het ’n dringende aansoek by die hoërhof in Windhoek aanhangig gemaak waarin hulle die vrylating van hul kinders geëis het.

Hulle het aangevoer dat die kinders nie slagoffers van mensehandel was nie, maar met hulle toestemming saam met Andjamba na Namibië gekom het.

Regter Shafimana Ueitele het in Desember 2022 ’n hofbevel uitgereik wat beslis het dat die vier seuns vrygelaat en in hul ouers se toesig geplaas moet word.

EISBESONDERHEDE

Launa Shikutya Safodino, Ana Vesse-Vesse Manuel Mandongo, Teresinha Kamuandi Costa en Emilia Navaongelo het in Mei vanjaar die minister van geslagsgelykheid, die minister van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit, die Nampol-bevelvoerder van die eenheid vir mensehandel en geldwassery en die aanklaer-generaal hof toe gesleep.

Hulle eis dat die aanhouding die kinders se reg op vryheid van beweging vir ’n tydperk van meer as vier jaar geskend het en hulle skade ter waarde van N$2 miljoen elk gely het.

“Gedurende Augustus 2018 het die verweerders onregmatig en ongrondwetlik die eisers se minderjarige kinders van hulle weggeneem en hulle aangehou op ’n plek wat nie aan die eisers bekend was nie. Die aanhouding was vir ’n tydperk vanaf November 2018 tot 16 Desember 2022 toe die minderjarige kinders op bevel van die hoërhof vrygelaat is,” lui die eisbesonderhede.

Die ma’s beweer daar was geen geregtelike gesag vir die aanhouding van die minderjarige kinders nie, die aanhouding is uitgevoer op ’n wyse wat nie met die Grondwet strook nie en is gedoen sonder die konsultasie met en toestemming van die ma’s.

“Die vryheid van die kinders is weggeneem op so ’n wyse wat nie ooreenstem met enige wet of die oppergesag van die reg nie.”

VERRIGTINGE

Hoewel nie een van die verweerders al op die bewerings en eise ge-antwoord het nie, het al vier reeds aangedui dat hulle die saak sal teenstaan.

Ingevolge ’n hofbevel moet die verweerders hulle pleitstukke voor 14 Augustus by die hof indien. Die saak is tot 18 September uitgestel.

Die voorsittende regter is Esi Schimming-Chase en die ma’s word deur Sisa Namandje verteenwoordig.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer