McLean vs Botes: Hof lewer uitspraak

Kristien Kruger
Regters Sylvester Mainga, Elton Hoff en regter-president Petrus Damaseb het Dinsdag uitspraak gelewer in die appèlsaak van vier trustees van die Michelle McLean-kindertrust (MMCT) teen sy voormalige uitvoerende direkteur, mnr. Daniel Botes, en het – in teenstelling met die uitspraak van die hoërhof – bevind Botes het ongemagtigde betalings ontvang en dat sodanige optrede die beëindiging van sy kontrak geregverdig het.

Die appèl spruit voort uit 'n dispuut wat voor die hoërhof gedien het waarin Botes sy medetrustees van die Michelle McLean-kindertrust suksesvol vir “onregmatige repudiëring” van sy dienskontrak as uitvoerende direkteur en sekretaris van MMCT gedagvaar het en vir “onregmatige inmenging” deur die medetrustees met sy aanstelling.

Die vier trustees, mee. Michelle Mclean, Conny Maritz, Selma Shejavali, en mnr. Nic Kruger het teen die hoërhof se uitspraak geappelleer en was gedeeltelik suksesvol.

AGTERGROND

Botes was in diens by die Michelle McLean-kindertrust as 'n uitvoerende direkteur, asook 'n trustee op ’n korttermynkontrak wat die medetrustees van tyd tot tyd hernu het.

Botes was verantwoordelik vir die daaglikse bestuur van die trust en sedert sy aanstelling in 1994 die hoofgeldinsamelaar.

Botes se aanstelling is jaarliks verleng totdat hy op 13 September 2013 geskors en sy dienste finaal op 27 November 2013 beëindig is, weens vermoedelike wanbesteding van die trust se geld.

Hierna het Botes die trust en medetrustees vir onregmatige repudiasie van sy kontrak gedagvaar, asook vir finansiële verlies vir die oorblywende termyn van sy kontrak en onbetaalde pensioenvoordele.

“Botes het N$10 047 208 as kontraktuele skadevergoeding; ’n bykomende N$2 miljoen as vergoeding vir die oorblywende 16 maande van sy kontrak; N$2 miljoen vir toekomstige verlies aan inkomste; en N$2 006 940 vir beweerde onbetaalde pensioenbydraes geëis.”

Die trustees het ook ’n teeneis teen Botes ingestel vir betalings wat te veel was en die verkoop van sy aandele in, wat volgens hulle, 'n waardelose maatskappy was.

Volgens McLean se getuie sou sy die finansiële rekords en state wat Botes voorberei het, onderteken sonder om te besef hy het homself vergoed, wat in stryd met die ooreenkoms is.

“Dit was eers ná Botes se aanstelling beëindig is dat sy optrede, veral sy onttrekkings en betalings aan homself uit die trust se fondse, noukeurig ontleed is. Dié proses het gelei tot die ontdekking dat Botes geld onttrek het waarop hy nie geregtig was nie. Die forensiese rekenmeestersverslag het getoon dat mnr. Botes aansienlike oorbetalings ontvang het wat veroorsaak het dat die trust verliese gely het,” het McLean getuig.

Beide partye het spesiale pleidooie van verjaring teen die eise van die ander geopper.

Die hoërhof het Botes se eis vir onregmatige repudiasie toegestaan en aan hom skadevergoeding vir die oorblywende termyn van sy kontrak en onbetaalde pensioen, met koste toegeken. Die hoërhof het die trust se teeneise vir ongemagtigde betalings aan die respondent van die hand gewys.

APPÈLUITSPRAAK

Die trustees het die saak in die hooggeregshof van Namibië geappelleer.

Die hof het bevind die hoërhof het gefouteer deur tot die gevolgtrekking te kom dat Botes se kontrak onregmatig beëindig is en die medetrustees suksesvol vasgestel het dat hy ongemagtigde betalings ontvang het en sodanige optrede die beëindiging van sy kontrak geregverdig het.

Die trustees se appèl is wel net gedeeltelik toegestaan.

“Alhoewel die trustees bewys het dat die respondent [Botes] geld aan homself oorbetaal het, het die eise reeds verjaar. Die trustees het ook daarin geslaag om vas te stel dat deel van die respondent se pensioeneis ook verjaar het.”

“Alhoewel die respondent ten opsigte van 'n deel van sy pensioeneis geslaag het, moet sy koste geweier word weens sy onaanvaarbare optrede om voordele van die trust te ontvang waarop hy nie geregtig was nie,” lui die uitspraak.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 30° Rundu: 19° | 33° Eenhana: 19° | 31° Oshakati: 21° | 29° Ruacana: 20° | 33° Tsumeb: 18° | 28° Otjiwarongo: 17° | 25° Omaruru: 19° | 29° Windhoek: 19° | 28° Gobabis: 20° | 25° Henties Bay: 17° | 21° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 18° | 22° Rehoboth: 20° | 29° Mariental: 20° | 31° Keetmanshoop: 19° | 32° Aranos: 20° | 29° Lüderitz: 16° | 27° Ariamsvlei: 20° | 34° Oranjemund: 16° | 23° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 29° Lubumbashi: 18° | 20° Mbabane: 19° | 30° Maseru: 17° | 19° Antananarivo: 14° | 29° Lilongwe: 19° | 24° Maputo: 26° | 40° Windhoek: 19° | 28° Cape Town: 18° | 22° Durban: 22° | 27° Johannesburg: 18° | 24° Dar es Salaam: 25° | 29° Lusaka: 18° | 24° Harare: 17° | 22° #REF! #REF!