Meatco eis meer as N$2 miljoen van boer

Bring spesiale pleidooi van verjaring
Meatco voer aan dat 422 van die oorspronklike 1 569 beeste weg is, maar 'n boer van Outjo dring aan hy kan nie aanspreeklik gehou word nie.
Kristien Kruger
Meatco sleep ’n boer van Outjo hof toe omdat hy na bewering 422 beeste, wat aan Meatco en die Namibië Beesteverkryging behoort het, glo onregmatig verwyder, verkoop of gesteel het.

Meatco het reeds in 2016 ’n saak teen mnr. Willem Johannes Groenewald aanhangig gemaak waarin hulle sowat N$2,2 miljoen eis.

Meatco het glo ’n kontrak met Groenewald aangegaan om sy infrastruktuur en kundigheid te gebruik om 1 569 beeste op sy plaas aan te hou met die doel om die beeste later óf te slag óf te verkoop.

Buiten vir ’n spesiale pleidooi van verjaring wat Groenewald en sy regspan gebring het, ontken hulle enige aanspreeklik vir die verlies aan beeste.

Groenewald ontken ook dat die waarde van die beeste N$2,2 miljoen is.

Partye moes gister in die hoërhof in Windhoek voor regter Herman Oosthuizen verskyn vir voorverhoorverrigtinge, maar Groenewald was nie teenwoordig nie en die saak is gevolglik tot 24 Oktober uitgestel.

OOREENKOMS

Volgens die ooreenkoms sou die eienaarskap, alle regte en belange van die beeste by die Namibië Beesteverkryging bly terwyl Meatco gemagtig was om alle regte en verpligtinge namens hulle na te kom.

Die verweerder sou na die beeste omsien vanaf die datum van aankope tot die beeste aan Meatco gelewer word.

Wanneer die beeste afgelewer word, sou ’n produsente-winsaandeel volgens die ooreenkoms bereken word.

Meatco het ingevolge die ooreenkoms die reg gehad om enige tyd Groenewald se plaas te besoek om die beeste te tel of te weeg.

Groenewald was volgens Meatco se hofstukke aanspreeklik vir die veiligheid van die beeste en moes vrektes, asook drastiese verandering in die beeste se gesondheid, aan Meatco rapporteer. Na bewering moes hy ook Meatco vergoed vir vrektes of enige verlies aan beeste.

Hy mag na bewering nie die beeste vervang het of sonder die goedkeuring van Meatco verkoop het nie.

GROENEWALD SE VERWEER

Groenewald erken in hofstukke dat hy ’n skriftelike ooreenkoms met Meatco onderteken het.

“Die verweerder [Groenewald] ontken hy het kontrakbreuk gepleeg aangesien klousule 3.2 van die ooreenkoms stipuleer dat partye in ooreenstemming met die kontrak moet optree, behalwe as ’n verbreking veroorsaak is deur ‘force majeure’, insluitend dade van God, oorlog, staking, sanksies of veranderinge aan die implementering van wette en regulasies of ander omstandighede buite die partye se beheer.”

“Die verweerder pleit dat honderde beeste gevrek en/of gesteel en/of vermis geraak het onder sodanige omstandighede soos uiteengesit in klousule 3.2 wat ontstaan het uit omstandighede buite sy beheer. Hy pleit dat hy nie aanspreeklik gehou kan word vir enige beeste of skade nie,” lui die hofstukke.

Hy beweer verder dat Meatco verantwoordelik vir enige verliese was en die nodige versekering moes uitneem vir enige vrektes of verlies aan beeste.

VERJARING

Groenewald het ’n spesiale pleidooi van verjaring gebring wat aanvoer dat die saak meer as drie jaar ná die voorval aanhangig gemaak is en daarom reeds verjaar het en ongeldig is.

“Meatco se eise is gebaseer op beweerde kontrakbreuk en alternatiewelik skade wat in Oktober 2013 plaasgevind het. Die gewysigde eisbesonderhede is op 2 Maart 2017 by die hof ingedien. Dit is meer as drie jaar ná die datums waarop die oorsaak van die eis ontstaan het. Dit het daarom reeds verjaar.”

Groenewald eis dat die saak op grond hiervan van die rol geskrap moet word.

Die regsfirma Dr. Weder, Kauta & Hoveka het op 20 Junie aangedui die firma sal nie langer vir Groenewald verteenwoordig nie, as gevolg van ’n gebrek aan geld vir die komende verhoor.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!