• Tuisblad
  • Howe
  • Mediese studente agter tralies weens vervalste Covid-toetse
Ter illustrasie. Foto Hendrik Schmidt
Ter illustrasie. Foto Hendrik Schmidt

Mediese studente agter tralies weens vervalste Covid-toetse

Landdros sê skuldiges moet ‘n les geleer word
'n Sewendejaar- mediese student appelleer teen sy vonnis en voer aan die skuldigbevinding en swaar straf het sy mediese loopbaan in die gedrang gebring.
Jana-Mari Smith
‘n Malawiese mediese student voer ‘n stryd om uit ‘n Namibiese tronk vrygelaat te word nadat hy tot gevangenisstraf van twee jaar gevonnis is – sonder die keuse van ‘n boete – oor hy met vervalste Covid-19-toetsuitslae by ‘n grenspos betrap is.

Mnr. Mussa Phiri (28), ‘n sewendejaar- mediese student, is in Augustus 2021 saam met me. Martha Namupala, ‘n 22-jarige Namibiër wat ook medies studeer, by die Ngoma-grenspos op Katima Mulilo in hegtenis geneem toe hy Namibië wou verlaat.

Phiri was op pad terug na Zambië om sy studies aan die Cavendish Universiteit voort te sit.

Albei het skuld beken op aanklagte wat daarmee verband hou dat hulle vervalste Covid-toetsuitslae aan grensamptenare oorhandig het.

Hoewel die verdediging en staatsaanklaer voorgestel het dat die hof hulle beboet, het landdros Clara Mwilima van Katima Mulilo nie dié voorstel aanvaar nie.

Sy het Phiri tot 24 maande gevonnis op twee aanklagte wat verband hou met die vervalste Covid-19-toetse, en Namupala tot 12 maande. Sy het nie die keuse van ‘n boete gegee nie.

BLAAM

Die landdros het benadruk die pandemie het mense hul lewens en werke gekos en gesê dit is “teleurstellend dat daar individue is wat nie oor die pandemie bekommerd is nie en eerder Covid-19-toetsuitslae wil vervals”.

Sy het gesê die beskuldigdes se optrede was “selfsugtig en onverantwoordelik” en het pogings om die pandemie te bekamp, teëgewerk.

Sy het gesê die duo “kan net hulself blameer” vir die lot wat hulle toekom.

Die landdros het beklemtoon die “straf moet nie net ‘n vermaning wees nie, maar hulle moet ‘n les geleer word om dit nooit weer te doen nie, respek vir die wet te hê en lede van die samelewing te word”.

Beide Phiri en Namupala het gesê die vonnis het hulle geskok.

“Ek was diep ontsteld oor die swaar vonnis wat ek opgelê is, veral in ag genome dat ek ten tyde van die vonnis ‘n eerste oortreder was en ek het skuldig gepleit op grond daarvan dat ek werklik berou het vir my oortreding,” het Namupala en Phiri in hul onderskeie beëdigde verklarings geskryf toe hulle hul appèlsake begin het. Beide het daarop gewys dat die skuldigbevinding en swaar vonnis, sonder die keuse van ‘n boete, hul mediese loopbane in die gedrang gebring het.

SKOKKEND

Namupala het haar aansoek om appèl vroeg in Februarie teruggetrek.

Phiri se regspan het Maandag die betooghoofde vir sy aansoek om appèl by die hoërhof in Windhoek ingedien.

Phiri se regspan voer aan die “vonnis was swaar en skokkend” en die landdros het die erns van die oortreding oorbeklemtoon, asook dat die fel vonnis sy toekoms as mediese dokter in gedrang kan bring.

Hulle voer aan die landdros het “versuim om ten tyde van die vonnisoplegging kennis te neem van die feit dat die verlengde gevangenisstraf die samelewing van 'n vaardigheid kan ontneem wat in aanvraag is en sewe jaar se opleiding kan weggooi. Ons voer aan so ‘n vonnis sal – met respek gesê – nie die gewenste uitwerking hê nie.”

Sy regspan voer aan die vonnis is te swaar as die vonnisse in ander vervalsingsake in ag geneem word, terwyl dié ander gevalle dikwels gelei het tot groter voordele as wat Phiri wou hê, naamlik om “toegelaat te word om Namibië te verlaat”.

Hulle het voorts gesê Phiri is jonk en ‘n eerste oortreder wat skuldig gepleit het om nie “die hof se tyd te mors nie”.

Die regters in die appèlsaak word gevra om die huidige vonnis tersyde te stel en hom eerder ‘n vonnis wat ten volle opgeskort is, benewens ‘n boete van N$3 000, op te lê.

Die staat staan die appèl teen.

Die saak is tot 11 Maart uitgestel en sal voor hoërhofregter Christie Liebenberg en regter Claudia Claasen dien. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer