Menzies misluk weer eens

Hof lewer uitspraak
Die uitgerekte sage vir die grondhanteringsdienste by die Internasionale Lughawe Hosea Kutako duur steeds voort.
Kristien Kruger
Menzies Aviation Namibia het gister nog ’n terugslag beleef nadat sy nuutste aansoek gister in die hoërhof in Windhoek van die hand gewys is.

Regter Shafimana Ueitele het Menzies se dringende aansoek om terug na die Internasionale Lughawe Hosea Kutako (HKIA) te keer, van die hand gewys

In die aansoek het Menzies ֹ’n bevel gesoek om ’n uitspraak van 8 Augustus uit te voer wat die Namibiese Lughawensmaatskappy (NAC) se kennisgewing aan hom – om die HKIA ná drie dae se kennisgewing te ontruim – tersyde gestel het.

In daardie uitspraak is beslis dat die NAC vir Menzies minstens 30 dae kennis moet gee om te ontruim. Menzies het ook versoek om na die lughawe terug te keer hangend ’n kruisappèl wat deur Paragon Investment Holdings gebring is.

Dit volg nadat Paragon op 19 Augustus die grondhanteringsdienste by die lughawe oorgeneem het en Menzies na bewering gedwing is om die perseel te verlaat.

In die huidige aansoek, wat slegs een van vele aansoeke is wat Menzies die afgelope jaar gebring het, moes Ueitele beslis of Menzies geregtig is om ’n uitspraak uit te voer ten spyte van die feit dat daar teen die uitspraak geappelleer word.

Die uitspraak verduidelik ingevolge gemenereg word die uitvoering van ’n uitspraak opgeskort wanneer appèl daarteen aangeteken is. Die hof kan egter sy diskresie gebruik om die uitvoering daarvan te beveel. Ueitele het egter beslis dat ’n bevel vir die uitvoering van die uitspraak sal neerkom op ’n indirekte weerspreking van ander uitsprake wat reeds gelewer is en nagevolge sal hê op hangende appèlsake.

“Die kern van die veelvuldige aansoeke wat deur Menzies gebring is, is sy begeerte om by die HKIA te bly en die grondhanteringsdienste te lewer. Die aantal aansoeke veroorsaak onlosmaakbare probleme,” lui die uitspraak.

SKADE

In Ueitele se uitspraak het hy beslis dat Menzies in sy verklarings onsuksesvol was in sy bewerings dat hy onherstelbare skade sal ly indien sy aansoek nie toegestaan word nie.

“Die enigste aspek wat ek kon aflei in die beëdigde verklaring ten opsigte van die benadeling van Menzies, hou verband met die vrag in ’n pakhuis wat onder sy beheer is en wat hy aan ontvangers moet lewer.

“Die situasie is egter nie onherstelbaar nie, want die NAC het toegegee dat Menzies vir ’n beperkte tydperk toegang tot die HKIA kan kry vir hierdie doel. Menzies beweer geen verdere skade of benadeling nie,” sê Ueitele in sy uitspraak.

Die NAC het egter aangevoer dat hy finansiële verliese sal ly en het dit glo soos duidelik in sy beëdigde verklaring uiteengesit.

“Dit moet as korrek aanvaar word aangesien dit nie deur Menzies betwis is nie.”

TWEEDE MISLUKTE AANSOEK

Die weiering van hierdie aansoek is die tweede dringende aansoek wat die hof van die hand gewys het sedert Menzies gedwing is om sy dienste by die lughawe op te skort.

Die eerste dringende aansoek is gebring op die grondslag van spoliasie waartydens Menzies beweer het dit was in vreedsame en ongestoorde besit van die lughawe tot die NAC hom glo onverwags toegang tot die perseel geweier het.

Regter Hannelie Prinsloo het die aansoek van die hand gewys en sy het bevind dat die NAC regmatig opgetree het.

ANDER SAKE

Daar is steeds ’n hangende hersieningsaansoek waarin Menzies die tenderproses, sy diskwalifikasie en die toekenning van die tender aan Paragon uitdaag, asook hangende appèlsake wat nog afgehandel moet word.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 33° Rundu: 19° | 29° Eenhana: 19° | 31° Oshakati: 22° | 30° Ruacana: 21° | 29° Tsumeb: 19° | 29° Otjiwarongo: 18° | 26° Omaruru: 22° | 33° Windhoek: 21° | 29° Gobabis: 21° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 17° | 23° Rehoboth: 22° | 31° Mariental: 23° | 35° Keetmanshoop: 22° | 36° Aranos: 21° | 35° Lüderitz: 14° | 26° Ariamsvlei: 24° | 37° Oranjemund: 17° | 24° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 21° | 31° Lubumbashi: 17° | 29° Mbabane: 15° | 32° Maseru: 18° | 30° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 34° Windhoek: 21° | 29° Cape Town: 20° | 22° Durban: 20° | 30° Johannesburg: 18° | 28° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 21° | 31° Harare: 18° | 29° #REF! #REF!