Menzies
Menzies

Menzies moet gaan, sê Paragon

NAC swyg oor kennisgewing
Die bestuur van Paragon Investment Holdings is ontevrede met vertragings wat deur Menzies Aviation veroorsaak is en sê hulle sal geen verdere sloerdery duld nie.
Kristien Kruger
Jemima Beukes en Kristien Kruger – “Dit is nie ’n opsie vir Menzies om te bly nie, want as hulle aanhou om die lughawe te beset, sal dit ’n bespotting van die wet wees. Dan kan ons net sowel die tronke gaan oopmaak.”

So het Paragon Investment Holdings se direkteur, Desmond Amunyela, gister tydens ’n mediakonferensie gesê en bygevoeg dat indien Menzies Aviation Namibia aanhou om die grondhanteringsdienste by die Internasionale Lughawe Hosea Kutako (HKIA) te lewer, sal dit aanleiding gee tot wetteloosheid in Namibië.

Amunyela het gesê Menzies se voortdurende vertragings het Paragon reeds miljarde dollars uit die sak gejaag.

Die konferensie kom ná ’n uitspraak wat Woensdag in die hoërhof in Windhoek gelewer is wat beslis het indien die Namibiese Lughawensmaatskappy (NAC) sy ooreenkoms met Menzies wil beëindig, moet hy Menzies 30 dae kennis gee om die lughaweperseel te ontruim.

REGTE BESKERM

Paragon se regsverteenwoordiger, Sisa Namandje, het tydens die konferensie gesê hulle wag net vir die NAC om die kennisgewing aan Menzies uit te reik en sê hulle sal geen verdere vertragings duld nie.

“Ons is vasberade. Ons kan nie elke dag aanhou sweet oor een saak in hierdie land nie. Ons sal alles binne die wet doen, maar hierdie keer sal my kliënt nie huiwer om sy regte te beskerm op enige manier wat hy kan nie,” het Namandje gesê.

Lazarus Jacobs, die medestigter van Paragon, het gister die media verseker dat hulle gereed is om die dienste by die lughawe oor te neem.

“Paragon is bekommerd oor die arrogante houding en vertragingstaktiek wat Menzies oor die afgelope jaar gebruik het. Paragon sal voortaan geen vertragingstaktiek meer duld nie en sal bedrywighede oorneem ná die verstryking van daardie tydperk nadat die NAC vir Menzies kennisgewing gegee het om die lughawe te ontruim,” het Jacobs gesê.

Hy het gesê hy is bly dat dit nou duidelik gemaak is en Menzies die lughawe binne ’n tydperk sal moet verlaat nadat hul kennisgewing ontvang het.

“Ek begin ’n ingesteldheid sien waarvan ek nie hou nie. Dit is hierdie ding van mense wat dink hulle is iets verskuldig, dit is die eintlike probleem. Mense kan sê wat hulle wil en ons moet dit aanvaar. Ons verstaan nou ons is in die tweede deel van die stryd,” het Amunyela bygevoeg.

NAC NOG STIL

Die woordvoerder van die NAC, Dan Kamati, het gister aan Republikein gesê die maatskappy is nog nie gereed om enige inligting oor die moontlike beëindiging van sy ooreenkoms met Menzies te verskaf nie.

Die NAC sal wel in die komende dae ’n mediaverklaring uitreik oor sy besluit.

Ingevolge die hofbevel, moet die NAC eers die ooreenkoms beëindig en Menzies sal dan 30 dae hê om die perseel se uitruim en die leisels aan Paragon oor te gee.

HANGENDE SAKE

Menzies het steeds ’n hangende saak in die hoërhof waarin hy die NAC se tenderproses uitdaag – veral met betrekking tot sy diskwalifisering van die proses en die toekenning van die tender aan Paragon.

Menzies beweer Paragon se personeel en toerusting is onvoldoende om die grondhanteringsdienste by HKIA te lewer en beweer dat dit op ’n moontlike ramp kan afstuur indien Paragon die dienste moet oorneem.

Dié hersieningsaansoek is steeds hangend voor regter Eileen Rakow in die hoërhof in Windhoek.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 33° Rundu: 19° | 29° Eenhana: 19° | 31° Oshakati: 22° | 30° Ruacana: 21° | 29° Tsumeb: 19° | 29° Otjiwarongo: 18° | 26° Omaruru: 22° | 33° Windhoek: 21° | 29° Gobabis: 21° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 17° | 23° Rehoboth: 22° | 31° Mariental: 23° | 35° Keetmanshoop: 22° | 36° Aranos: 21° | 35° Lüderitz: 14° | 26° Ariamsvlei: 24° | 37° Oranjemund: 17° | 24° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 21° | 31° Lubumbashi: 17° | 29° Mbabane: 15° | 32° Maseru: 18° | 30° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 34° Windhoek: 21° | 29° Cape Town: 20° | 22° Durban: 20° | 30° Johannesburg: 18° | 28° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 21° | 31° Harare: 18° | 29° #REF! #REF!