Menzies speel vir tyd, sê NAC

Hofstryd duur steeds voort
'n Bestuurder by Menzies voorspel Namibië se lugvaartbedryf stuur op 'n ramp af.
Kristien Kruger
“Dit is die jongste van verskeie pogings deur die aansoeker [Menzies] om die verskaffing van grondhanteringsdienste by die Internasionale Lughawe Hosea Kutako (HKIA) voort te sit wanneer daar geen kontrak of ander regsgrondslag vir die maatskappy in plek is nie. Menzies doen dit nadat die hof meer as een keer aan die maatskappy gesê het om die perseel te ontruim.”

So het die Namibiese Lughawensmaatskappy (NAC) gesê in reaksie op Menzies Aviation Namibia se nuutste dringende aansoek wat Dinsdag in die hoërhof in Windhoek aangehoor is.

Die aansoek kom nadat die hooggeregshof in die NAC se guns beslis het deur te beveel dat Menzies die grondhanteringsdienste aan Paragon Investments Holdings – aan wie die NAC die tender toegeken het – moet oorgee.

In Menzies se aansoek voer die maatskappy aan die NAC se eis dat hy binne drie dae die lughaweperseel moet ontruim, was onredelik en moet ter syde gestel word. Die maatskappy eis dat redelike kennisgewing gegee moes word voordat hy die perseel moet ontruim.

“Menzies is glad nie geregtig op enige redelike tyd nie. Die maatskappy het nog altyd geweet – vanaf die datum waarop die hooggeregshof sy uitspraak gelewer het – dat hy verplig was om die perseel te ontruim.”

“Menzies speel vir tyd en is nie van plan om HKIA te ontruim nie,” beweer die NAC.

Die NAC sê Menzies se “onwettige strategie” veroorsaak dat hy finansiële verliese ly.

“Ingevolge die nuwe ooreenkoms met Paragon, sal die NAC ’n bykomende inkomste verdien, aangesien die NAC geregtig is op ’n hoër persentasie van die inkomste. Menzies betaal die NAC slegs 12% van sy maandelikse omset en ingevolge die nuwe ooreenkoms moet Paragon 22% per maand betaal (minus die gewaarborgde betaling),” lui NAC se hoofbetoë.

‘RAMP AAN DIE KOM’

“Ek kan die hof verseker, volgens my kundige mening, stuur Namibië se lugvaartbedryf op ’n ramp af. Die ramp is as gevolg van die NAC se onverantwoordelike en irrasionele optrede. Dis van uiterste belang dat die hof sy magte uitoefen om dit te verhoed,” het ’n bestuurder by Menzies, Emile Anton Smith, in ’n verklaring gesê.

Smith beweer verder dat dit tydens die hersieningsaansoek van die tenderproses aan die lig gekom het dat Paragon na bewering korrupsie gepleeg het en dokumente vervals het.

Menzies beweer verder dat Paragon ’n “onveilige en onvoorbereide plaasvervanger” is.

“’n Oorhandigingsproses gaan nie glad verloop nie en dit sal ongekende skade aan Namibië se toerismebedryf en goeie reputasie aanrig. Die woord sal vinnig versprei en talle inkomende reisigers sal kanselleer. Dit is onmoontlik om ’n geldelike bedrag te koppel aan die hoeveelheid skade wat die Namibiese nasie sal ly.”

Die dringende aansoek is Dinsdag aangehoor. Partye het egter gister weer in die hof verskyn waartydens regter Eileen Rakow Menzies se aansoek om verlof tot appèl toegestaan het.

VERLOF TOT APPÈL

Hoewel Menzies onsuksesvol was in sy aansoek dat die hof die NAC moet verplig om hom toe te laat om die grondhanteringsdienste by HKIA voort te sit tot die hersieningsproses voltooi is, beweer Menzies hy het ’n redelike vooruitsig op sukses indien die hooggeregshof sy appèlaansoek aanhoor.

Die NAC en Paragon het die aansoek teengestaan en het aangevoer dat Menzies se aansoek regmatig van die hand gewys is.

“Dit is omdat Menzies ses maande gewag het nadat dit sy hersieningaansoek gebring het om vir ’n tussentydse interdik aansoek te doen. Dit is onwaarskynlik dat ’n ander hof tot die gevolgtrekking sal kom dat Menzies enige regsgrondslag het om op die perseel te bly en grondhanteringsdienste te lewer,” het die NAC in sy hoofbetoë aangevoer.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!