DougieTruter FOTO ARGIEF
DougieTruter FOTO ARGIEF

Miljoene geëis van voormalige hoof

Aanmeldbonus, ses maande kennisgewing
Pupkewitz se voormalige uitvoerende hoof het alle klagte teen hom van beweerde wangedrag ontken.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Pupkewitz Holdings (Pty) Ltd eis meer as N$16 miljoen van sy voormalige uitvoerende hoof wat in 2019 met onmiddellik effek bedank het ná klagtes van beweerde wangedrag en seksuele teistering teen hom gemaak is.

Pupkewitz het vier eise van onderskeidelik N$6,59 miljoen, N$6,41 miljoen, N$2,11 miljoen en N$1,5 miljoen teen Frederick Christoffel (Dougie) Truter ingestel wat op 1 Augustus 2015 as die maatskappy se uitvoerende hoof aangestel is.

Truter het egter in September 2019 met onmiddellike effek bedank voordat ’n bevinding gemaak kon word in ’n dissiplinêre verhoor waar hy klagtes van beweerde seksuele teistering in die gesig gestaar het. Hy het die aanklagte teen hom ontken. Voor sy bedanking het Truter ’n dispuut by die kantoor van die arbeidskommissaris aanhangig gemaak met bewerings van konstruktiewe ontslag, ’n eensydige verandering van terme en voorwaardes, onregverdige arbeidspraktyk, sowel as die wanbetaling van sy verlof- sowel as werksdae.

In sy eedsverklaring sê Truter die maatskappy het gepoog om hom te onderwerp aan ’n dissiplinêre ondersoek na ’n aantal klagtes van wangedrag. Hy beweer ook die maatskappy en sy regsverteenwoordigers het hom onderwerp aan “onderdrukkende en onaanvaarbare optrede” tot so ’n mate dat sy voortgesette indiensneming by die maatskappy “eenvoudig onuithoudbaar, ongunstig en ondraaglik” was.

Hy verwys ook na ’n berig in ’n plaaslike koerant oor beweerde teksboodskappe met ’n seksuele ondertoon tussen hom en van sy personeellede en beweerde seksuele verhoudings in ’n plaaslike hotel en beskryf dit as “blatant vals”.

As dit nie vir die onwettige optrede van Pupkewitz was nie, sê Truter sou hy nooit sy werksooreenkoms met die maatskappy opgeskort het nie en is hy daarom nie aan die maatskappy verskuldig om sy kennisgewing van ses maande asook sy aanmeldbonus terug te betaal nie.

In sy eedsverklaring sê Ronald Mendelow namens Pupkewitz dat Truter op 28 September 2016 ’n leningsooreenkoms van N$6 miljoen aangegaan het om residensiële eiendom in Windhoek te koop. Die lening sou op 15 Oktober 2016 in werking tree vir ’n tydperk van drie jaar en terugbetaalbaar op of voor 15 Oktober 2019. Die ooreenkoms was dat Truter in diens van die maatskappy vir die tydperk sou bly. Sou hy bedank voordat die lening afbetaal is, sou dit onmiddellik vereffen word.

As deel van die maatskappy se langtermyn-aansporingsprogram (LTIP) het Truter aan die einde van die finansiële jaar einde Junie 2016 die bedrag van N$617 951 ontvang wat op sy lening inbetaal is. Drie weke voordat die lening en rente vereffen moes wees, het Truter op 24 September 2019 met onmiddellike effek bedank wat beteken hy moes dadelik die N$6 844 miljoen vereffen.

Truter se salaris vir die tydperk 1 September tot die dag van sy bedanking het N$133 498 beloop, terwyl sy verlofdae tot op laasgenoemde datum N$121 068 was wat neerkom op N$254 566. Volgens Mendelow is dié bedrag van bogenoemde lening van N$6 miljoen verhaal.

Die verskuldigde bedrag volgens Pupkewitz se eerste eis teen Truter staan op N$6,59 miljoen. Mendelow verwys ook in sy verklaring na Truter se werkskontrak wat bepaal sou hy nie ses maande kennis gee voor hy bedank nie, hy die vergoeding aan die maatskappy moet vereffen wat hy in die ses maande tydperk sou verdien het. Truter is gevolglik verantwoordelik vir die betaling van N$2,11 miljoen wat 50% is van die jaarlikse totale koste tot die maatskappy en met betrekking tot sy jaarlikse vergoeding.

In terme van klousule 12 van sy werkskontrak het Truter ’n eenmalige bonus (“sign on bonus”) van N$1,5 miljoen ontvang, minus sy en sy gesin se hervestigingskoste en minus die belasting wat volgens die wet afgetrek moet word.

Volgens Mendelow erken Truter in sy pleitverklaring die bonus het alle en enige hervestigingskoste of uitgawes ingesluit vir hom en sy gesin om na Namibië te verhuis. Dié koste is direk deur Pupkewitz aan diensverskaffers betaal op geskrewe instruksies van Truter en afgetrek van die bonusbedrag.

Mendelow verwys na klousule 20.3 van Truter se werkskontrak wat hy oortree het deur nie ses maande kennis te gee voordat hy bedank het nie, asook sy verbreking van klousule 23.5 wat volgens hom daarop dui dat Pupkewitz Truter se aanmeldbonus van N$1,5 miljoen kan terugeis.

Die saak is tot 1 Februarie aanstaande jaar vir voorverhoorverrigtinge uitgestel.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!