Die Fishrot-beskuldigdes, James Hatuikulipi en Sacky Shanghala. Foto Argief
Die Fishrot-beskuldigdes, James Hatuikulipi en Sacky Shanghala. Foto Argief

Miller bly regter in Fishrot-verhoor

Hoofverhoor begin binnekort
Drie Fishrotters het by die hoërhof aansoek gedoen om Kobus Miller se aanstelling as regter uit te daag.
Kristien Kruger
Drie Fishrot-beskuldigdes se tweede poging om Kobus Miller as die voorsittende regter van die Fishrot-verhoor te laat verwyder, was Vrydag onsuksesvol.

James Hatuikulipi, Sacky Shanghala en Pius Mwatelulo wou toestemming by die hoërhof kry om Miller se aanstelling as regter uit te daag.

Hulle het aangevoer dat die wet die regterpresident, Petrus Damaseb, verhoed om ’n regter aan te stel wat ouer as 70 is. Miller is tans 75 jaar oud en is in Januarie vanjaar vir nog ’n termyn aangestel as ’n regter van die hoërhof.

Regter Boas Usiku het Vrydag beslis dit sou beteken dat Miller en Damaseb gedagvaar moet word en dat dit teenstrydig met die wet is.

“Die huidige aansoek is na my mening teenstrydig met die bepalings van afdeling 21 van die wet, omdat dit die verskyning van die respondente voor die hof vereis sodat hulle die verligting wat versoek word (sought relief), kan teenstaan.

“Daar kan daarom nie toestemming gegee word vir die aansoek nie en die saak is gevolglik van die rol geskrap,” het Usiku in sy uitspraak gesê.

BEWEERDE PARTYDIGHEID

Damaseb het Miller in 2022 as die voorsittende regter van die Fishrot-verhoor aangestel nadat verskeie ander regters hulself van die saak moes onttrek.

Dit is die drie beskuldigdes se tweede poging om Miller van hul saak te laat verwyder nadat hulle vroeër vanjaar gefaal het in ’n aansoek vir Miller om homself aan die saak te onttrek op grond van die bewering dat hy nie onpartydig sal wees nie.

Miller het een van die vele borgtogaansoeke van die beskuldigdes aangehoor en hulle verteenwoordigers het aangevoer hy het reeds gevolgtrekkings gemaak ten opsigte van verwere waarop hulle ook tydens die verhoor sal steun.

Miller het partye verseker hy sal onpartydig wees en het die aansoek van die hand gewys. Nog ’n Fishrot-beskuldigde, Ricardo Gustavo, het hom tot die hooggeregshof gerig om Miller se beslissing om hom nie aan die saak te onttrek nie, te hersien. Die versoek is ook van die hand gewys.

VERHOOR BEGIN VOLGENDE MAAND

Die Fishrot-hoofverhoor is geskeduleer om uiteindelik op 2 Oktober te begin – byna drie jaar nadat die skandaal aan die lig gekom het en die eerste beskuldigdes in hegtenis geneem is.

Gustavo, Hatuikulipi, Shanghala, Mwatelulo, Mike Nghipunya, Tamson (Fitty) Hatuikulipi, Bernhard Esau, Otneel Shuudifonya, Phillipus Mwapopi en Nigel van Wyk is tans in aanhouding by die Windhoek Sentrale Gevangenis.

Esau en Van Wyk het verlede week in die hoërhof in Windhoek verskyn vir hul jongste borgtogaansoeke en die saak sal op 9 Oktober hervat.

Marén de Klerk, wat vroeër vanjaar in Suid-Afrika in hegtenis geneem is nadat hy vir sowat twee jaar geweier het om na Namibië terug te keer “uit vrees vir sy lewe”, sal op 26 September in die landdroshof in die Paarl verskyn vir sy uitleweringsverhoor. Hy is tans vry op borgtog.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!