Mnr. Ricardo Gustavo tydens 'n vorige verskyning in die hoërhof. Foto Argief
Mnr. Ricardo Gustavo tydens 'n vorige verskyning in die hoërhof. Foto Argief

Miller gaan nie van Fishrot-verhoor onttrek

Ricardo Gustavo se aansoek misluk
Die aansoek het misluk om die regter wat aangewys is om die Fishrot-beskuldigdes te verhoor, van die saak te verwyder.
Hofverslaggewer
Waarnemende regter Kobus Miller sal op die bank wees wanneer die verhoor begin van die beskuldigdes wat na bewering by die omvangryke Fishrot-viskwotaskandaal betrokke was. Hy gaan hom nié van die verhoor onttrek nie.

Dit volg nadat Miller gister in die hoërhof in Windhoek die aansoek deur Ricardo Gustavo, beskuldigde 1 in dié korrupsie- en bedrogsaak, van die hand gewys het.

Gustavo het aangevoer hy het rede om te glo Miller sal tydens die verhoor bevooroordeeld teenoor hom wees.

Hy het ook gesê Miller sal nie met 'n oop gemoed die verhoor betree nie en sal nie onpartydig wees nie.

Gustavo grond dié aansprake op opmerkings wat Miller in Julie 2020 in 'n uitspraak in die hoërhof gemaak het toe hy 'n appèl deur Gustavo teen die weiering van sy eerste aansoek om borgtog in die landdroshof, van die hand gewys het.

In 'n beëdigde verklaring wat sy regsverteenwoordiger, mnr. Trevor Brockerhoff in Februarie by die hof ingedien het, sê Gustavo opmerkings wat Miller in die uitspraak van dié appèl gemaak het, toon hy het vooraf al op die uitslag besluit.

Volgens Gustavo het Miller bevind dat hy in diens was van 'n ongeregistreerde maatskappy, Namgomar Pesca, en dat hy wanvoorstellings gemaak het wat tot die toekenning van 'n visvangkwota aan Namgomar gelei het.

"Hierdie vooropgestelde standpunt het te make met die kern van my verdediging as 'n werknemer van Namgomar Pesca Namibia," sê Gustavo.

"Ek glo die voorsittende regter sal nie onpartydig by my verhoor aantree as hy reeds verklaar het dat hy my verweer verwerp sonder om getuienis in my saak aan te hoor nie," het Gustavo aangevoer.

Hy meen Miller se bevinding in die appèluitspraak dat die staat tydens sy borgtogverhoor getoon het die saak teen hom is sodanig dat hy skuldig bevind kan word, “toon voorafbepaaldheid sowel as vooroordeel ten gunste van die staat”.

Adjunk-aanklaer-generaal Ed Marondedze, vir die staat, het aangedui hy is neutraal oor Gustavo se versoek dat Miller hom onttrek en het die hof ingelig hy sal by die bevinding berus.

Miller het gister gesê dié opmerkings was gegrond op prima facie-getuienis in die landdroshof, en is nie finale bevindings oor getuienis wat tydens die verhoor van die saak gelewer sal moet word nie.

Hy het gesê 'n redelike waarnemer sal nie tot die slotsom kom dat hy die saak met 'n vooropgestelde siening sal benader nie.

Brockerhoff het gister gesê hy het instruksies om teen die uitspraak te appelleer.

Miller het die saak tot 20 Julie uitgestel.

Gustavo se medebeskuldigdes is die voormalige ministers van visserye en mariene hulpbronne en van justisie, Bernard Esau en Sacky Shanghala, Esau se skoonseun, Tamson Hatuikulipi, die voormalige voorsitter en uitvoerende hoof van die staatsbeheerde National Fishing Corporation of Namibia (Fishcor), James Hatuikulipi en Mike Nghipunya, asook Pius Mwatelulo, Otneel Shuudifonya, Phillipus Mwapopi en Nigel van Wyk.

Hulle sal op 42 klagte van bedrog, omkopery, korrupsie, rampokkery, geldwassery en belastingontduiking verhoor word. –[email protected]

Kommentaar

David Louw 2 Jaar Gelede 12 May 2022

Vandat Hage aan bewind gekom het het Namibië in Namibise ROT verander!! Tyd dat hy sy tassies pak en in China gaan woon!!

Rapporteer

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!