Ministerie bewus werker dreig met dood

Ernstige vorm van psigotiese geestesversteuring
Die man wat 'n kollega by die werk doodgeskiet het, het glo stemme gehoor en was woedend dat sy kontrak nie hernu gaan word nie.
Henriette Lamprecht
Die eggenoot van ’n werknemer van die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste wat koelbloedig by haar werk doodgeskiet is, eis byna N$18 miljoen van die ministerie asook Vicmic Security Services wat vir die werknemers se veiligheid verantwoordelik was.

’n Kollega, mnr. Simataa Simasiku, het me. Sarah Mwilima, ’n direkteur van die bestuurseenheid van Global Fund, op 28 Januarie 2019 in haar kantoor op die agtste vloer in Windhoek se sakekern doodgeskiet.

Mnr. Fred Mwilima het die eis namens homself en die egpaar se seun en dogter ingedien.

In die eis word verwys na Simasiku se geestestoestand en dat hy sedert 2015 ’n “baie ernstige vorm van psigotiese geestesongesteldheid” gehad het.

In die tydperk 2015 tot 2019 het Simasiku aangevoer kollegas kan sy gedagtes lees en hy hoor die stemme van “’n direkteur” (Sarah Mwilima) en die verkrygingsbeampte wat sê hy “moet ’n forex-rekening oopmaak”. Hierin het hy “sowat N$90 miljoen” gevind, maar toe hy vir die geld vra “wat hy moet kry”, is dit geweier.

Volgens hofstukke was Simasiku van mening “baie mense neem geld uit die rekening” en dat “mense by die kantoor begin sê het ek het ’n klomp geld gesteel”.

Tuis het hy ervaar “die stemme het weer begin en maak opmerkings oor my en my familie wat oor die geld stry”.

Gedurende 2018 het hy “vreemde dinge” by ’n kitsbank ervaar soos byvoorbeeld dat die kitsbank vir “gelyste eiendomme en abnormale dinge” vra.

In 2019 het hy stemme gehoor “wanneer hy intiem met sy vrou verkeer het” en “wat lag en vra hoe ek voel dat hulle my so verneder”.

Simasiku het agtergeraak met sy maandelikse betalings en het vir ’n lening by die bank aansoek gedoen.

“Dit was toe dat ek na die kantoor van die direkteur gegaan het en haar weens die vernedering geskiet het”.

Hy beweer ook “die stemme lag nog steeds en praat. Hulle het ook iets soos ’n skokapparaat op my kop gebruik. Hulle het my geskok as hulle nie gehou het van wat ek doen nie. Dit was soos ’n innerlike stem. Hulle het ook gekla oor ’n slegte reuk wanneer ek die toilet gebruik het. Hulle het nie die geld gekry nie. Hulle wou hê ek moet reël vir die geld en sou dit met my deel,” lui die hofstukke.

Simasiku het ook woede en gegriefdheid teenoor werknemers van die ministerie, ander werknemers en spesifiek Sarah Mwilima getoon oor die feit dat hy ingelig is sy werkskontrak sou nie weer hernu word wanneer dit in Maart 2019 sou verstryk nie.

Ten spyte hiervan het die ministerie geen stappe geneem om uit te vind of Simasiku se toestand enige gevaar of bedreiging vir die veiligheid van kollegas en veral Mwilima inhou nie. Die ministerie het ook geen stappe gedoen om haar te beskerm nie.

Volgens haar man is die gevaartekens nie erken of enige voorsorgmaatreëls getref nie, terwyl daar ook nie ondersoek na die mediese en sielkundige toestand van veral Simasiku gedoen is om vas te stel of hy geskik was om sy werk te doen en of hy enige bedreiging vir iemand inhou nie.

Simasiku het gedurende 2017 en 2018 gedreig hy gaan van sy medekollegas doodmaak.

Met verwysing na Vicmic Security Services sê die hofstukke die gebou het geen veiligheidskontrolepunte wanneer ’n persoon die gebou binnegaan nie. Mense word nie ordentlik deursoek nie, terwyl dit ook nie maatreëls in plek het om alle werknemers te beskerm teen gewapende persone wat die gebou binnekom nie. Simasiku is nie gekeer om die gebou binne te gaan nie, niks is gedoen om die skietery te verhoed nie en spoedige en voldoende mediese aandag is nie dadelik aan Mwilima verleen ná sy geskiet is nie.

Die skadevergoedingseis beloop N$17,9 miljoen. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!