Iwala Trading cc dagvaar die ministerie van werke en vervoer, asook die ministerie van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit. Foto Argief
Iwala Trading cc dagvaar die ministerie van werke en vervoer, asook die ministerie van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit. Foto Argief

Ministeries hof toe gesleep

Kristien Kruger
Iwala Trading cc eis skadevergoeding van sowat N$1,5 miljoen van die ministerie van werke en vervoer vir eiendom wat hulle gehuur en glo in ’n haglike toestand terugbesorg het.

Volgens hofstukke het die ministerie die eiendom namens die ministerie van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit, wat die tweede verweerder in die saak is, gehuur. Lede van die Namibiese polisie het die eiendom vanaf 2013 tot 2019 beset.

In Januarie 2020 het Iwala die ministeries ingelig dat die eiendom volgens hul ooreenkoms, in sy oorspronklike toestand teruggegee moet word en nie in die toestand wat hulle dit gelos het nie. Daarna het lede van die Namibiese polisie glo die skade herstel.

“Die opknappings was egter met defekte en die eiendom was steeds in ’n betreurenswaardige toestand en is nie volgens die ooreenkoms tot sy oorspronklike toestand herstel nie,” lui Iwala se hofstukke.

Hoewel die hoërhof die saak reeds twee keer na bemiddeling verwys het, kon die partye nie tot ’n vergelyk kom nie en sal die saak in die hof aangehoor word.

Die partye het Dinsdag in die hoërhof in Windhoek vir voorverhoor verskyn.

SKADE AAN EIENDOM

Volgens die hofstukke beweer Iwala dat die herstel en opknapping aan die eiendom meer as N$500 000 gaan kos.

Hulle moet glo gate in die mure vul en oorverf, ’n staalskuifdeur vervang, mure verf, toilette regmaak, nuwe gloeilampe insit, en teëls en vensters vervang.

Die houtvloere is glo ook beskadig, vier van die deure maak nie oop nie want die sleutels is weg, ander deure se slotte en handvatsels is gebreek en Iwala beweer dat veral die toilette vuil en onhigiënies was.

N$1,5 MILJOEN SE EIS

Iwala eis N$48 000 vir loodgieterswerk, N$28 800 vir elektriese herstelwerk en N$484 000 vir algemene opknappings.

Hul eis ’n bykomende N$484 000 vir vier maande se huur wat verbeur is, aangesien die eiendom nie beskikbaar was nie, asook eskalasie van huur van 10% wat sowat N$421 000 beloop.

Die verweerders weier om die bedrag te betaal.

“Ons het probeer om met die eiser te onderhandel en ons het ekstra geld betaal vir die onvoorsiene skade aan die eiendom, maar sy was steeds nie tevrede nie. Daarna moes lede van die Namibiese polisie al haar eiendomme opknap en sy was steeds nie tevrede nie,” het me. Ester Akubets, die hoof van die ministerie van werke se afdeling vir die huur en verhuring van vaste bates, gesê.

ONSUKSESVOLLE BEMIDDELING

Die eerste bemiddeling was vir 6 Mei 2021 geskeduleer, maar volgens die bemiddelaar se verslag was dit onsuksesvol “weens die verweerders se onwilligheid om saam te werk”.

Die verweerders se regsverteenwoordiger het opgedaag, maar nie een van die verweerders nie.

’n Hofbevel is op 10 Augustus uitgereik wat die verweerders verplig het om ’n rede vir hul afwesigheid te verskaf.

Dr. Albert Kavana, die minister van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit, het in sy verklaring gesê die ministerie van werke is verantwoordelik vir die huur van eiendom namens die regering en hulle het die ooreenkoms met die eiser aangegaan.

“Die ministerie was onder die indruk dat die ministerie van werke die saak gaan hanteer.”

Die ministerie van werke het nie gedink hul teenwoordigheid word vereiste nie en dat hul regsverteenwoordiger die onderhandelinge kan hanteer.

Die ministerie van finansies, wat die derde verweerder in die saak is, het gesê hulle gaan nie aan die verrigtinge deelneem nie.

“Aangesien die ministerie nie by die kwessies tussen die partye betrokke was nie, sal die ministerie nie aan die verrigtinge deelneem nie en sal hulle bloot ingelig word oor die uitslag sodra die saak afgehandel is,” het dié ministerie by monde van hul regsverteenwoordiger gesê.

Kawana, Akubets, die eiser en hul verteenwoordigers het op 8 Desember 2021 bymekaargekom vir bemiddeling, maar dit was weer eens onsuksesvol en die saak sal in die hoërhof in Windhoek aangehoor word. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer