Minstens 13 jaar agter tralies vir renosterstropers
Gerson Kandjii ook destyds betrokke
Volgens die omgewingsministerie wys die uitspraak dat die hof die erns van die saak verstaan, veral omdat die opsie van 'n boete nie toegelaat is nie.
Ellanie Smit – Die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme het vonnisse van minstens 13 jaar tronkstraf elk vir vier renosterstropers verwelkom.
Die vonnisse is onlangs in die Windhoek-streekhof opgelê.
Die voormalige Brave Warriors-chiropraktisyn Gerson Kandjii (51) was ook by die saak betrokke, maar is in 2021 in aanhouding dood.
Die arrestasies spruit uit ’n voorval in Desember 2016, toe vier witrenosters op ’n private plaas in die Gobabis-distrik gestroop is.
Op 22 Desember 2016 het die verdagtes glo sonder ’n jagpermit vier witrenosters – twee bulle en twee dragtige koeie, elk ter waarde van N$1,25 miljoen – met ’n totale waarde van N$5 miljoen doodgemaak.
Die ander beskuldigdes in die saak is Zee Shekumba, wat werksaam was op die plaas waar die stropery gebeur het, Erwin Tjiteere, Domingo Justice Moma en David Stephanus.
STERK BOODSKAP
Volgens die ministerie wys landdros Johannes Shuuveni se uitspraak dat die hof die erns van die saak verstaan, veral omdat hy nie die opsie van ’n boete toegelaat het nie.
Dit sal ook as ’n sterk boodskap dien dat stropery in Namibië ernstige gevolge inhou, sê die ministerie.
Die ministerie se woordvoerder, Romeo Muyunda, het gesê die verhoor is op 18 September afgehandel, terwyl vonnisoplegging op 4 Oktober plaasgevind het.
“Die beskuldigdes staan tereg op aanklagte van die jag van beskermde wild, diefstal van renosterhorings, opsetlike eiendomsbeskadiging en onwettige betreding.”
Al vier beskuldigdes is op drie van die vier aanklagte skuldig bevind, het Muyunda gesê.
Hulle is vrygespreek op die aanklag van opsetlike eiendomsbeskadiging.
VONNISSE
Die vonnisse het 15 jaar tronkstraf ingesluit – waarvan vyf opgeskort is – vir die jag van spesiaal beskermde wild.
Shekumba, Tjiteere, Moma en Stephanus het ook ses jaar ontvang, waarvan drie opgeskort is, vir diefstal van die renosterhorings.
Drie van die vier beskuldigdes is tot een jaar tronkstraf gevonnis, met ses maande opgeskort, vir onwettige betreding.
Die ministerie het weer eens ’n beroep op lede van die publiek gedoen om stropery te veroordeel deur vermeende voorvalle by die polisie of die ministerie aan te meld.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie