'Moenie huil nie, Pappa'

N$5 miljoen vir pyn en lyding
Teen die tyd wat Elia Mupolo by die toneel aangekom het, het Hendrina duidelik in pyn op die grond gelê en by tye haar bewussyn verloor.
Henriette Lamprecht
Redaksie – Die pa van ’n negejarige meisie wat verlede jaar in Mariental dood is nadat sy glo deur ’n bakkie gejaag en omgery is, sê in sy getuieverklaring sy dogter het op die toneel vir hom gevra om nie te huil nie.

Elia Mupolo dagvaar die kleinhoewe-eienaar Johan Meyer vir N$5 miljoen vir die dood van Hendrina Mupolo wat saam met haar ma en familielede oorskotbone op Meyer se plaas op die oewer van die Visrivier gepluk het.

Hendrina se ma, Annamarie, het onlangs haar skadevergoedingseis teen Meyer teruggetrek. Mupolo het deur sy regsverteenwoordiger Norman Tjombe sy verklaring by die hoërhof ingedien. Meyer moet voor Vrydag sy verklaring oor die voorval indien voordat die hof die verhoordatums bepaal.

Op 1 Mei verlede jaar het Hendrina, vergesel van haar ma, haar ma se suster en twee ander kinders na die kleinhoewe vergesel om oorskotboontjies te oes.

“Die vorige dag het verskeie lede van die publiek dié boontjies geoes en Hendrina se ma (Annamarie) het eers die aand daarvan uitgevind. Sy en Hendrina het die oggend van 1 Mei 2022 gegaan om te kyk of hulle ook van die oorskotboontjies kan oes,” lui Mupolo se verklaring.

Nog ’n getuie, Maria Shiyukifeni, wat ook op die kleinhoewe was om boontjies te oes, het gesê sy het gegaan omdat praatjies in die dorp laat blyk het Meyer het mense gevra om die oorskotboontjies te oes. Sy het dié inligting ook so aan ’n veiligheidswag oorgedra wat haar gevra het om die plaas te verlaat.

“Hy is toe weg. Kort hierna het ’n Toyota Land Cruiser stadig aangery gekom. Dit het by ’n ander groep mense gestop aan die verste kant van waar ek was. Dit was nie lank nie voordat ek gesien het hoe die motor ’n jong seun deur die landery jaag,” lui die verklaring.

Die seun wat nie geïdentifiseer is nie, kon volgens Shiyukifeni se verklaring daarin slaag om te ontsnap.

“Die voertuig het ’n U-draai gemaak en baie vinnig in die rigting van ’n jong meisie gery. Die meisie het in die rigting van ’n vrou gehardloop. Ek het later uitgevind dit was Annamarie, die ma van die jong meisie.

“[Annamarie] het wanhopig vir die meisie geskree om vinniger na haar te hardloop omdat die voertuig besig was om vinnig nader te kom. Die meisie het ook geskree en gehuil soos sy gehardloop het. Die voertuig was egter baie vinnig en dit het haar gestamp voordat sy haar ma kon bereik,” lui die verklaring.

Mupolo sê Hendrina se ma het hom gebel en oor die voorval ingelig.

“Ek het Hendrina gekry waar sy in geweldige pyn op die grond gelê het. Annamarie was histeries en het gehuil. Ek het ook ’n ou man, bekend aan my as Sambaba op die toneel gekry. Hy was in ’n hewige argument met Meyer betrokke wat hom gevloek het en in Afrikaans vir hom gesê het: ‘F.. uit my tuin!’, ‘Vat die f.... kind uit my plek’, ‘Dit is nie jou f.... plek nie!’

“Teen die tyd wat ek by die toneel aangekom het, het my dogter op die grond gelê, vol stof en ander oorblyfsels. Sy was duidelik in pyn en het gehuil. By tye het sy haar bewussyn verloor. Wanneer sy bygekom en gesien het ek huil, het sy vir my gesê: ‘Pappa, moenie huil nie. Ek gaan na antie toe.’ Ek het dit gesien as ’n verwysing na ’n tannie wat vroeër oorlede is. Dit was nog meer traumaties en het my meer laat huil,” het hy gesê.

Die polisie en ’n ambulans het later volgens die verklaring by die toneel aangekom.

“Die paramedici het die kind ondersoek en na die hospitaal vervoer. By die Mariental-hospitaal is ek ingelig hulle gaan die kind Windhoek toe vervoer. Na ’n rukkie en terwyl ek gewag het vir die reëlings om getref te word om haar na Windhoek te vervoer, het Hendrina in my en haar ma se teenwoordigheid gesterf.”

Mupolo sê die N$5 miljoen is ’n redelike betaling vir sy emosionele pyn en lyding, ongemak, trauma en sielkundige skade wat hy ná die tragedie verduur het.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!