MTN skuld Cran glo N$17 miljoen

Versoek hof om bemiddeling te fasiliteer
Nadat MTN na bewering versuim het om sy ooreengekome maandelikse paaiemente te betaal, eis Cran miljoene in uitstaande skuld.
Kristien Kruger
Die regulerende Owerheid vir Kommunikasie in Namibië (Cran) het die telekommunikasie-operateur, MTN Namibia, hof toe gesleep en eis sowat N$17,5 miljoen in uitstaande skuld.

Cran het die saak op 3 Oktober 2022 by die hoërhof in Windhoek aanhangig gemaak en het aanvanklik N$10,9 miljoen geëis. Die owerheid het wel op 25 November 2022 sy eisbesonderhede gewysig en die bedrag na N$17 535 079 verhoog.

Partye het Donderdag voor regter Thomas Masuku verskyn. Hulle het tydens voorverhoorbeplanning aangedui dat hulle die hof sal versoek om bemiddeling te fasiliteer en indien dit onsuksesvol is, sal Cran ’n aansoek om summiere uitspraak indien.

SKULD

Cran se eisbesonderhede is tweevoudig en die eerste eis se oorsprong is in ’n ooreenkoms tussen Cran en MTN met betrekking tot MTN se betaling van agterstallige spektrumfooie en regulatoriese heffings, wat sowat N$7,4 miljoen beloop het.

Die uitvoerende hoof van Cran, Emilia Nghikembua, en die besturende direkteur van MTN, Elia Tsouros, het glo op 8 September 2021 die skriftelike ooreenkoms onderteken.

Volgens Cran het die agterstallige skuld ontstaan uit N$3,7 miljoen vir spektrumfooie vir 2020 en 2021; N$3,5 miljoen vir ’n 790-862 MHZ-spektrum wat in Augustus 2020 aan MTN toegeken is; en N$190 475 in regulatoriese heffings vir 2016 tot 2018.

Die ooreenkoms het MTN verplig om maandelikse paaiemente, met rente, aan CRAN te betaal. Die ooreenkoms het ook gestipuleer dat indien MTN versuim om die betalings volgens die ooreenkoms te maak, sal die skuld asook die rente onmiddellik ten volle betaalbaar wees.

“Die verweerder (MTN) het nie voldoen aan betalingsvoorwaardes soos ooreengekom nie en het eerder betalings in kleiner bedrae gemaak,” beweer Cran in hul eisbesonderhede.

Cran het, ná verskeie beweerde pogings om die geld in te vorder, die ooreenkoms met MTN gekanselleer en die hofgeding aanhangig gemaak en eis N$4 miljoen met betrekking tot skuld ingevolge kontrakbreuk.

In die tweede deel van Cran se eisbesonderhede eis hulle byna N$13,5 miljoen met betrekking tot uitstaande skuld vir ’n spektrum wat Cran aan MTN toegeken het.

MTN het op 26 Oktober 2021 aangedui dat hulle beplan om die saak teen te staan, maar het nog nie pleitstukke by die hof ingedien nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer