• Tuisblad
  • Howe
  • MVAF slaag in hofsaak teen hersieningspaneel
Regter Shafimana Ueitele het gister (Dinsdag) in die hoërhof in Windhoek uitspraak in die saak gelewer. Foto Argief
Regter Shafimana Ueitele het gister (Dinsdag) in die hoërhof in Windhoek uitspraak in die saak gelewer. Foto Argief

MVAF slaag in hofsaak teen hersieningspaneel

Tersydestelling van tendertoekenning ongeldig
Nadat 'n bieër suksesvol was in sy aansoek by 'n hersieningspaneel om die toekenning van 'n tender deur die MVAF ter syde te stel, is dié besluit Dinsdag in die hoërhof ter syde gestel.
Kristien Kruger
Die Motorvoertuigongelukfonds (MVAF) was Dinsdag suksesvol in sy aansoek by die hoërhof in Windhoek om ’n besluit van die hersieningspaneel vir openbare verkryging ter syde te stel.

Nadat die MVAF in Desember ’n tender vir die verskaffing van dienste vir beleggingsbestuur toegeken het, het een van die 27 bieërs ’n aansoek by die hersieningspaneel ingedien om die toekenning van die tender te hersien. Die paneel het bevind dat die tenderproses van vooraf moes begin.

Die MVAF was ontevrede met dié besluit en het die hoërhof op ’n dringende basis genader om die paneel se besluit ter syde te stel. Die fonds het beweer dat die betrokke bieër eers ’n aansoek by die MVAF moes bring om die tendertoekenning te heroorweeg.

Regter Shafimana Ueitele het Dinsdag in die MVAF se guns beslis en beveel dat die paneel se besluit ter syde gestel word. Ueitele het verder beveel dat die betrokke bieër wat die hersieningaansoek by die paneel gebring het, naamlik Orcas Investment managers (Pty) Ltd, die MVAF se regskostes moet dek.

AGTERGROND

Die MVAF het op 7 Desember 2022 ’n “kennisgewing vir die keuring van toekenning” aan alle bieërs gestuur en het ’n week later ’n brief van Orcas Investment ontvang, waarin die maatskappy sy ontevredenheid uitgespreek en verskeie eise gemaak het.

Aan die einde van dieselfde maand het die MVAF toekenningsbriewe aan al die suksesvolle bieërs gestuur.

Op dieselfde dag het die fonds ’n e-pos van Orcas Investment ontvang met kennisgewing dat hulle ’n aansoek om hersiening by die hersieningspaneel ingedien het.

Die hersieningsaansoek het geslaag en die MVAF het ’n dringende aansoek by die hoërhof in Windhoek aanhangig gemaak.

Die MVAF het beweer dat Orcas Investment nie aan sekere vereistes voldoen het voordat die maatskappy ’n aansoek by die paneel ingedien het nie.

Volgens die MVAF moet bieërs eers by die betrokke openbare entiteit ’n aansoek bring vir die heroorweging van die tendertoekenning. Indien die entiteit nie op daardie aansoek reageer nie of die bieër is ontevrede met die antwoord, dán eers kan die hersieningspaneel genader word vir ’n aansoek om hersiening.

Die MVAF het aangevoer dat Orcas Investment nooit ’n aansoek om heroorweging ingedien het nie.

Orcas Investment het tydens die verhoor aangevoer dat die brief wat die maatskappy in Desember gestuur het, sy aansoek om heroorweging uitgemaak het.

Die hof het egter beslis dat Orcas Investment se brief slegs ’n registrasie van ontevredenheid, ’n eis vir verduideliking en versoek vir sekere dokumente was en nie ’n aansoek om heroorweging nie.

“In die afwesigheid van ’n aansoek om heroorweging, het die hersieningspaneel geen bevoegdheid gehad om die besluit van ’n openbare entiteit te hersien nie,” het Ueitele in sy uitspraak gesê.

Die saak is afgehandel en van die rol geskrap.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!