Mynbates dalk op pad Zim toe

SDM ly verlies van byna N$205 m.
Lewcor Holdings sleep Sperrgebiet Diamond Mining (SDM) hof toe en versoek 'n tussentydse interdik om dié mynmaatskappy te verhoed om die Elizabeth Bay-myn se roerende bates te verwyder.
Kristien Kruger
“Die oordrag van SDM [Sperrgebiet Diamond Mining] se roerende bates, is ’n poging om ’n onbillike voordeel op te raap gedurende die tydperk tussen die indiening van die versoek vir likwidasie van SDM en die toestaan van sodanige bevel.”

So het die bedryfshoof en direkteur van Lewcor Holdings, Thiaan Lewis, in ’n verklaring gesê vir ’n dringende aansoek wat by die hoërhof in Windhoek teen SDM gebring is.

Lewcor soek ’n tussentydse interdik om SDM te verhoed om die roerende bates van die Elizabeth Bay-myn, 30 km suid van Lüderitz, te verwyder en dit na Zimbabwe te vervoer hangende die uitkoms van die versoek vir die likwidasie.

Partye het gister in die hoërhof in Windhoek voor regter David Munsu verskyn vir die aanhoor van die dringende aansoek. Die saak is tot 9 Februarie vir uitspraak uitgestel.

“Al die feite dui op die onafwendbare gevolgtrekking dat RZM [RZ Murowa Ltd.], as die meerderheidsaandeelhouer, die voorneme het om die myn heeltemal te stroop van al sy roerende bates, sonder enige voorneme om eers die myn se skuld te delg,” beweer Lewis.

Lewis voer aan dat die verwydering van die bates, Lewcor, wat ’n krediteur van SDM is, sal benadeel. Vanaf Mei 2023 het SDM na bewering krediteure-eise ten bedrae van N$122 miljoen gehad.

“SDM en RZM poog om die myn heeltemal uit te hol, dit te devalueer en dit byna onmoontlik te maak om weer die mynbedrywighede by die Sperrgebiet-diamantmyn te kan begin. As al die bates verwyder word, sal die myn geen waarde aan ’n potensiële koper bied nie.”

‘NIKS ONHEILSPELLEND’

In SDM se beantwoordende verklaring erken die waarnemende uitvoerende hoof, Abraham Grobler, dat hulle die roerende bates aan ’n geaffilieerde Zimbabwiese privaat maatskappy, genaamd RZ Murowa verkoop het, maar voer aan dat die eerste verkoopstransaksie reeds in Junie 2023 plaasgevind het.

Lewcor het eers op 14 Desember 2023 die versoek vir die likwidasie van SDM geloods.

“Ons erken dat ons gretig is om die goedere na Zimbabwe te vervoer, want ons het ’n kontraktuele verpligting om dit te doen. Daar is niks onheilspellend daaraan nie,” het Grobler in sy verklaring gesê.

Grobler het verder gesê dat Lewis se bewering dat SDM die myn wil “uithol”, grens aan “absurdheid”. Hy beweer dat ’n myn se waarde vasgestel word deur meer as net die bates en dit sluit in onder andere mynlisensies, wat ’n waarde van ’n aansienlike bedrag kan hê.

“Hetsy dit opsetlik is of weens ’n gebrek aan kennis van die bedrywighede van SDM – en die mynbedryf in die algemeen – bied Lewcor ’n een-dimensionele en verwronge weergawe van die feite aan hierdie hof,” het Grobler in sy verklaring aangevoer.

Hy ontken ook Lewis se bewerings dat SDM beplan om alle roerende bates weg te ry. Hy voer aan dat dit “surplus bates” is – bates wat oorbodig, verouderd of gebruikte items is wat nie meer deur SDM gebruik word nie.

“Die goedere is verkoop as deel van SDM se hersiene strategie om die myn meer winsgewend te bedryf. SDM het geen intensies om bedrywighede te hervat soos dit voorheen bestuur is nie en daardie bates is nie noodsaaklik vir die beoogde afskalings nie,” het Grobler gesê.

SDM ontken ook dat dit feitelik insolvent is.

‘ONDERGANG’ VAN SDM

SDM bestuur en besit tans die Elizabeth Bay-myn waar daar sedert 1911 gemyn word. Bedrywighede by dié myn, wat sowat 245 000 ha groot is, het sedertdien gestop en weer hervat met die nuutste staking van bedrywighede wat glo in 2018 plaasgevind het.

In 2020 het Lewcor die bates van Elizabeth Bay-myn bekom en in 2023 het RZ Murowa Holdings, Lewcor se meerderheidsaandeelhouding in SDM verkry.

Mynbedrywighede het in September 2022 weer begin, maar moes in Maart verlede jaar weer gestaak word.

“Alhoewel die totale materiaal wat vir hierdie tydperk ontgin is, sowat 692 000 ton was, was dit slegs 58% van die teiken. Die karaat wat geproduseer is, was 83% onder die teiken van 96 618 karaat en daar was ’n bedryfsverlies van ongeveer N$205 miljoen vir dié tydperk,” lui hofstukke.

NamPower het ook die kragtoevoer na die myn in Mei 2023 afgesny weens wanbetaling.

MYN KNIEHALTER DORP SE ONTWIKKELING

Die Lüderitz-dorpsraad se woordvoerder, Elwin !Gaoseb, het reeds maande gelede gesê hulle verwag dat die dorp se inwonersgetalle sal verdriedubbel met die olieontdekking en groenwaterstofontwikkelings.

!Gaoseb is van die mening dat daar reeds onvoldoende behuising vir die huidige inwoners van die dorp is en dat die drop sal moet uitbrei, maar dat daar nie genoeg grond is vir bykomende erwe nie.

Bronne in die dorp se bestuur, sê Lüderitz is prakties ingehok deur onder andere die Sperrgebiet-diamantmyn.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 24° | 37° Rundu: 19° | 33° Eenhana: 21° | 25° Oshakati: 20° | 26° Ruacana: 21° | 27° Tsumeb: 20° | 27° Otjiwarongo: 17° | 25° Omaruru: 20° | 31° Windhoek: 19° | 27° Gobabis: 19° | 27° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 22° Rehoboth: 21° | 32° Mariental: 24° | 35° Keetmanshoop: 21° | 34° Aranos: 23° | 35° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 20° | 34° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 20° | 29° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 28° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 23° | 39° Windhoek: 19° | 27° Cape Town: 18° | 22° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 16° | 24° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 22° | 35° Harare: 22° | 33° #REF! #REF!