Foto argief
Foto argief

Nóg ’n tenderproses in die hof uitgedaag

Bou van streekraad se kantore tydelik gestaak
Die hoërhof in Windhoek het gister uitspraak gelewer in 'n dringende aansoek oor beweerde foute deur die Verkrygingsraad.
Kristien Kruger
Die konstruksie van die Ohangwena-streekraad se nuwe kantoorgebou sal vertraag word weens ’n suksesvolle dringende aansoek teen die tenderproses.

Die aansoek is in die hoërhof in Windhoek aanhangig gemaak op grond van beweerde foute in die tenderproses. ’n Tussentydse interdik is gister uitgereik wat die implementering van die tendertoekenning staak.

Twee maatskappye, Punchu Trading en China Railway Seventh Group Namibia, beweer die Verkrygingsraad van Namibië het ’n verkeerde bevel ná ’n hersieningsaansoek uitgereik wat glo nie die meerderheidsbesluit van die paneel weerspieël het nie.

Hulle het die voorsitter van die Verkrygingsraad en die hersieningspaneel hof toe gesleep in ’n poging om die toekenning en implementering van die tender vir die kantoorgebou wat in Eenhana gebou sal word, te staak.

Dié maatskappye meen die tender is aan nog twee maatskappye toegeken ondanks die feit dat hulle aanvanklik gediskwalifiseer is.

“Hierdie gedrag is verkeerd, onregverdig en onredelik,” beweer die besturende lid van China Railway, Ma Linlin, in haar verklaring.

Die partye het gister in die hoërhof in Windhoek voor regter George Coleman verskyn.



TENDERPROSES

Maatskappye is in Oktober verlede uitgenooi om vir die betrokke tender aansoek te doen.

Volgens ’n kennisgewing in Januarie is Ibuild Suppliers en die Jiangsu Zhingai Construction-groep aanvanklik as die suksesvolle bieërs gekies.

Nog twee maatskappye, New Success Investment en China Jiangxi International, was egter ontevrede met die feit dat hulle van dié proses gediskwalifiseer is en het 'n hersieningsaansoek by die hersieningspaneel ingedien.

In April het die Verkrygingsraad ten gunste van New Success Investment en China Jiangxi International beslis en ’n hersiene kennisgewing vir die tendertoekenning uitgereik waar hulle as die suksesvolle bieërs aangewys is.

Daarna, op 25 Junie, is daar glo weer eens ’n hersiene kennisgewing vir die tendertoekenning uitgereik wat die applikante, Punchu Trading en China Railway, as suksesvolle bieërs aangewys het.

Dit het gelei tot nog ’n hersieningsaansoek van New Success Investment en China Jiangxi International en die uitkoms daarvan is die basis vir die huidige hofaansoek.



‘VERKEERDE’ BEVEL UITGESTUUR

Die hersieningsaansoek is in Augustus vanjaar aangehoor en New Success Investment en China Jiangxi International se aansoek was suksesvol.

Daar is beslis dat die kennisgewing van 25 Junie tersyde gestel word.

Punchu Trading en China Railway beweer hulle het op 30 Augustus ’n brief ontvang wat hulle in kennis gestel het dat die bevel wat uit die hersieningsaansoek gespruit het, glo nie die meerderheidsbesluit weerspieël nie.

Volgens die brief het die meerderheid glo besluit dat New Success Investment en China Jiangxi International se aansoek van die hand gewys moet word.

“Ten spyte van die fout is die verkeerde beslissing soos vervat in die verkeerde bevel geteken en uitgestuur.

“Die hersieningspaneel het nie die fout reggestel nie,” lui Linlin se verklaring.



UITSPRAAK

Punchu Trading en China Railway het nog ’n hersieningsaansoek by die hoërhof in Windhoek aanhangig gemaak voordat hulle die dringende aansoek gebring het.

In daardie aansoek eis hulle dat die Verkrygingsraad die saak na die hersieningspaneel terugverwys en die korrekte bevel volgens die meerderheidsuitspraak uitreik,” lui die hofstukke.

Ingevolge die hofbevel wat Coleman gister uitgereik het, word die partye verbied om die tendertoekenning te implementeer, hangende die uitkoms van die hersieningsaansoek.

Coleman het ook beveel dat New Success Investment en China Jiangxi International die applikante se regskoste vir die aansoek moet betaal.

Die dringende aansoek is gevolglik van die rol geskrap.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 24° | 37° Rundu: 19° | 33° Eenhana: 21° | 25° Oshakati: 20° | 26° Ruacana: 21° | 27° Tsumeb: 20° | 27° Otjiwarongo: 17° | 25° Omaruru: 20° | 31° Windhoek: 19° | 27° Gobabis: 19° | 27° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 22° Rehoboth: 21° | 32° Mariental: 24° | 35° Keetmanshoop: 21° | 34° Aranos: 23° | 35° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 20° | 34° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 20° | 29° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 28° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 23° | 39° Windhoek: 19° | 27° Cape Town: 18° | 22° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 16° | 24° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 22° | 35° Harare: 22° | 33° #REF! #REF!