• Tuisblad
  • Howe
  • N$30 m.-bedrogsaak: Borgtog vir beskuldigdes
Een van die beskuldigdes, Victoria George. FOTO VERSKAF
Een van die beskuldigdes, Victoria George. FOTO VERSKAF

N$30 m.-bedrogsaak: Borgtog vir beskuldigdes

Kry borg van N$100 000 elk
Luidens die klagstaat het die verdagtes die sakeman na bewering met vervalste dokumente genader deur hulle as verteenwoordigers van Oranje Cultural Fishing (Pty) Ltd voor te doen.
Nuusredaksie – Ses individue wat in Februarie in hegtenis geneem is nadat hulle na bewering ’n 72-jarige sakeman van sowat N$30 miljoen bedrieg het, is Dinsdag elk borgtog van N$100 000 in die Walvisbaai-landdroshof toegestaan.

Onder die beskuldigdes is Victoria George (34), wat glo die vermeende meesterbrein agter die beweerde skema was. Die ander beskuldigdes wat ook aanklagte in die gesig staar, is Cecilia Nakale (53), ’n amptenaar van die ministerie van landbou, visserye, water en grondhervorming; Abisai Ndeunjema (34); Elizabeth Shikongo (30), ’n verpleegster wat in Windhoek gestasioneer is; Elizabeth Niilonga (54), ’n adjudant-offisier by korrektiewe dienste; en die 50-jarige Iithele Vitalis.

Luidens die klagstaat het die verdagtes die sakeman na bewering met vervalste dokumente genader deur hulle as verteenwoordigers van Oranje Cultural Fishing (Pty) Ltd. voor te doen. Ndeunjema is as die direkteur van die maatskappy gelys.

Hulle word daarvan beskuldig dat hulle valslik beweer het dat 40 000 metrieke ton se viskwotas aan Oranje Cultural Fishing toegeken is ingevolge ’n regeringsprogram vir die regstelling van indiensneming.

Op grond van hierdie valse bewerings het hulle Ivo Alberto Fernando De Gousa, 'n verteenwoordiger van Razorbill Investment, oortuig om N$30 miljoen te betaal vir toegang tot die kwotas.



VERPLEEGSKOOL

Aanklaers het aan die hof gesê ’n kwota van net 502 metrieke ton maasbanker is vir die 2024-seisoen aan Oranje Cultural Fishing toegeken. Dit sluit 301 metrieke ton vir bevrore vis en 201 metrieke ton vir nat vis in.

Die beskuldigdes het gevolglik beweerde bedrog gepleeg deur bewustelik vals inligting te verskaf in ’n poging om toegang tot De Gousa se geld te verkry. Nadat hulle die geld ontvang het, het die beskuldigdes na bewering die geld gebruik om ’n verpleegskool, die Lancaster Training Institute, te stig.

Dokumente wat Network Media Hub (NMH) onder oë gehad het, wys hoewel die skool in 2022 gestig is, dit nie by die Namibië Kwalifikasie-owerheid (NQA) geregistreer is nie. Aanklaers voer aan dat die instituut gefunksioneer het as ’n dopmaatskappy wat geskep is om geldwassery te vergemaklik.

Verdere ondersoeke het gewys dat die geld eerder gebruik is om voertuie en eiendomme te koop, insluitend ’n huis van N$1,7 miljoen, wat na bewering verskeie van die beskuldigdes bevoordeel het.

Hulle staan tereg op aanklagte van bedrog, vervalsing en geldwassery ingevolge die wet op die voorkoming van georganiseerde misdaad (Poca).

Die groep word deur Kadhila Amoomo verteenwoordig en hulle borgtogvoorwaardes bepaal dat hulle elke Donderdag by die polisie moet aanmeld en hulle word verbied om met enige van die getuies kontak te maak. Die saak is tot 15 September uitgestel.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer