• Tuisblad
  • Howe
  • N$4 m. se eiendom aan staat verbeurd verklaar
Wildlife crime
Wildlife crime

N$4 m. se eiendom aan staat verbeurd verklaar

Spesiale howe bespoedig afhandeling van sake
Die skielike toename in wildmisdaad en die verwante verhoging in arrestasies het tydelik die kapasiteit van regslui en die howe oorweldig.
Ellanie Smit
Ellanie Smit – Die waarde van eiendom wat verlede jaar tydens die afhandeling van wildmisdaadsake by spesiale howe aan die staat verbeurd verklaar is, het meer as N$4 miljoen beloop.

Dit sluit in onwettige wildprodukte, vuurwapens en voertuie wat tydens die uitvoer van verwante misdade gebruik is.

Volgens die verslag vir wildbeskerming en wetstoepassing in Namibië staar die regstelsel ’n reeks uitdagings in die gesig rakende die hantering van hoë misdaadsyfers en om te verseker dat geregtigheid geskied. Die grootste struikelblok is ’n groeiende agterstand in sake op hofrolle.

“Dit is gedeeltelik aangevuur deur die reusetoename in wildmisdaadsake die afgelope dekade, met jare waartydens daar byna vier keer meer hofsake geregistreer is as dié wat afgehandel is,” lui die verslag.

In 2022 het dit duidelik geword dat spesiale howe wat uitsluitlik wildmisdaadsake aangehoor het, ’n doeltreffende manier was om die huidige agterstand in te haal.

“Van die 380 skuldigbevindings in 503 wildmisdaadsake van individuele verdagtes wat gedurende 2022 afgehandel is, is van die mees noemenswaardige vonnisse opgelê deur die spesiale howe wat aan wildmisdade gewy is,” aldus die verslag.

Die spesiale howe het 121 wildmisdaadsake afgehandel.

Die skielike toename in wildmisdaad die afgelope dekade en die verwante vinnige styging in die arrestasies van verdagtes, het ook tydelik die kapasiteit van regslui en die howe oorweldig om al die sake te hanteer wat op die hofrol verskyn het.

In 2019 is die grootste gaping tussen geregistreerde en gefinaliseerde sake opgemerk – 548 gevalle is geregistreer, maar net 139 is afgehandel; ’n verhouding van 3,9:1. Teen 2021 is die jaarlikse koers tot 2,4 verminder.

Die instelling van tydelike spesiale howe in 2022 wat net wildmisdaadsake hanteer, het die jaarlikse koers tot 1,4:1 verminder – 355 sake is geregistreer en 244 afgehandel.

Terwyl die bogenoemde beteken die agterstand neem steeds jaarliks toe, klim dit egter teen ’n baie stadiger pas as vier jaar gelede.

In April verlede jaar het die eerste spesiale hof vir die verhoor van wildmisdade gelyktydig op Katima Mulilo en Rundu gesit. Dit was ’n reusesukses – met 80 gevalle wat afgehandel is met 68 skuldigbevindings. Dit is opgevolg deur nog ’n sitting in September in Okahao en Outapi. Hier is 41 sake afgehandel met 35 skuldigbevindings.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer