’n Sekuriteitswag van G4S, Samuel Shipanga (33), is borgtog in die Windhoek-landdroshof geweier. Foto Rita Kakelo
’n Sekuriteitswag van G4S, Samuel Shipanga (33), is borgtog in die Windhoek-landdroshof geweier. Foto Rita Kakelo

Namdia-rooftog: Nóg twee op Keetmans vas

Rita Kakelo
Terwyl Samuel Shipanga (33), ’n sekuriteitswag van G4S wat vandeesweek in verband met die Namdia-diamantrooftog in Januarie in hegtenis geneem is, gistermiddag sy eerste verskyning in die Windhoek-landdroshof gemaak het, is onthul dat nóg twee verdagtes vasgetrek is.

Shipanga is borgtog geweier nadat staatsaanklaer Rowan van Wyk aangevoer het die beskuldigde is ’n vlugrisiko en kan met sleutelgetuies inmeng, aangesien hy op die misdaadtoneel teenwoordig was en hul identiteite ken.

Shipanga staan tereg op ’n aanklag van diefstal van ongeslypte en ongepoleerde diamante – en nie ’n klag van roof nie – in verband met die voorval wat op 18 Januarie by die perseel van die staatsbeheerde maatskappy Namibia Desert Diamonds (Namdia) in die hoofstad plaasgevind het.

Tydens die hofverrigtinge het dit aan die lig gekom dat nóg twee verdagtes op Keetmanshoop in verband met die saak in hegtenis geneem is. Dit is ook onthul dat die Namibiese en Suid-Afrikaanse polisie met mekaar kommunikeer, aangesien owerhede vermoed dat van die gesteelde diamante moontlik in Suid-Afrika verkoop is.

Shipanga het verkies om homself in die hof te verteenwoordig. Sy volgende verskyning is vir 17 Junie geskeduleer.

Die inhegtenisname van nóg verdagtes dui op ’n verskuiwing ná die bewerings van gegriefde Namibiërs dat die Namibiese polisie (Nampol) die saak afgeskeep en nie vinnig genoeg opgetree het om die waarheid te onthul nie.

Dit volg op Namdia se onttrekking aan ’n beplande gesamentlike mediakonferensie met die Namibiese polisie aan die einde van Januarie. Die konferensie sou die besonderhede en vordering oor die land se grootste diamantrooftog deel, waartydens twee mans, Max Endjala (44) en Francis (Gosh) Eiseb, gesterf het en 446 pakkies diamante gesteel is.

Wyle Eiseb was ’n senior sekuriteitsbeampte by Namdia en Endjala was die Trustco-groep se bedryfshoof vir interne en forensiese ondersoeke.

Nampol het in Maart bevestig diamante ter waarde van N$40,6 miljoen is teruggevind – ’n klein gedeelte van die geraamde N$314,9 miljoen se diamante wat tydens die rooftog gesteel is.

Diamante ter waarde van N$274,3 miljoen bly dus steeds vermis.

Afgesien van die kansellasie van die gesamentlike mediakonferensie, was dit die enigste ander keer dat Namdia ’n openbare opdatering gegee het.

Die afgelope vier maande is vyf verdagtes in verband met die rooftog in hegtenis geneem: Een verdagte het Maandag in die hof verskyn, Namdia se sekuriteitsbeampte, Joel Angula (45), en medebeskuldigde Sam Shololo (45) sal na verwagting op 23 Mei 2025 weer verskyn en die twee ander wat op Keetmanshoop gearresteer is, se hofdatum moet nog bevestig word.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer