Prowealth-beleggers verloor hul saak teen Namfisa. Foto Argief
Prowealth-beleggers verloor hul saak teen Namfisa. Foto Argief

Namfisa seëvier in Prowealth-hofstryd

Saak van rol geskrap
Die eisers het beweer Namfisa en 'n ouditeursfirma het die stigter van 'n beleggingsgroep in staat gestel om groot bedrae geld van beleggers te steel.
Kristien Kruger
Nadat die Prowealth-hofsaak etlike jare gesloer het, het die hoërhof in Windhoek Vrydag in Namfisa se guns beslis.

Die 87 beleggers, Prowealth Asset Managers (Pty) Ltd en die likwidateur van die maatskappy, mnr. Alwyn van Straten, se eissaak is reeds in Maart 2012 aanhangig gemaak.

Die eisers het aangevoer Namfisa het as toesighoudende owerheid nie hul pligte nagekom nie en was nalatig. Hulle het beweer Namfisa, asook die ouditeursfirma Swart Grant Angula (SGA), het die stigter van dié beleggingsgroep, mnr. Riaan Potgieter, in staat gestel om groot bedrae geld van beleggers – wat hul geld by Prowealth Asset Managers belê het – te steel.

Regter Herman Oosthuizen het bevind dat Namfisa, die waghondliggaam oor die finansiële bedryf, nie aanspreeklik teenoor die eisers is nie.

“Na oorweging van die bepalings van die Namfisa-wet, is een van die eenvoudige logiese gevolgtrekkings wat aangeteken moet word, dat Namfisa nie kan optree of 'n handeling kan weglaat sonder die ingryping van persone nie. Dis 'n juridiese instansie. Namfisa is nie in staat om op te tree sonder individue wat dit bestuur nie.”

“Namfisa is nie in staat om enige funksie of plig te delegeer sonder die minister, die raad of die uitvoerende hoof nie en die eisers het nie ’n te kort aan goeder trou deur die ministerie of uitvoerende hoof bewys nie,” lui Oosthuizen se uitspraak.

Die hof het beveel dat die eisers Namfisa se regkostes moet betaal. Die saak is afgehandel en van die rol geskrap.

AGTERGROND

Die Prowealth-skandaal is ’n Ponzi-skema wat vergelyk word met die Masterbond-sage van die 90’s.

Die eis teen Namfisa en SGA het aanvanklik N$103,78 miljoen beloop, maar is na N$58,6 miljoen gewysig.

Die eisers het aangevoer Namfisa het in Augustus 2003 toegelaat dat Prowealth Asset Managers as ’n batebestuurder registreer ondanks die feit dat die maatskappy nie aan die vereistes voldoen het nie.

Verder, sê hulle, het Namfisa toegelaat dat Prowealth Asset Managers hom aan die publiek en beleggers voordoen as ’n hoogs winsgewende maatskappy wat buitengewoon hoë opbrengste op beleggings betaal.

Die eisers beweer Potgieter het die geld wat van beleggers ontvang is, in werklikheid gebruik om sy uitspattige leefstyl te onderhou en om die uitgawes van ander maatskappye in die Prowealth-groep te betaal.

Die eisers en SGA het geskik en ooreengekom dat laasgenoemde N$4 miljoen betaal, sonder die erkenning van aanspreeklikheid.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!