NBC sleep Nakuta wéér hof toe

Partye het Dinsdag in die hof verskyn
Die grondslag van die klag teen die NBC is dat hy betaalde advertensies van die ministerie van myne en energie uitgesaai en dit as nuus aangebied het.
Kristien Kruger
Die Namibiese Uitsaaikorporasie (NBC) het weer die media-ombudsman, John Nakuta, hof toe gesleep nadat hy sowat drie maande gelede die saak teruggetrek het.

Die saak handel oor ’n klag wat die Economic Social Justice-trust teen NBC gemaak het oor die beweerde eensydige inhoud van ’n episode van die aktualiteitsprogram “Talk of the Nation”, wat oor ReconAfrica gehandel het.

Die NBC beweer Nakuta het die klag partydig hanteer omdat hy ’n trustee van die trust is en dat hy besluit het die klag moet ondersoek word voordat hy onttrek het as gevolg van die konflik van belange.

“Die media-ombudsman het versuim om homself van al die besluitnemingsprosesse te onttrek. Afgesien van die vooroordeel, was dit duidelik irrasioneel,” het die NBC se direkteur, Stanley Similo, in hofstukke gesê.

Similo sê verder in sy verklaring daar was geen meriete vir Nakuta se besluit dat die klag verder ondersoek word nie. Die NBC eis dat Nakuta se besluit om die klag te ondersoek, tersyde gestel moet word.

“Ek ontken dat ek ’n bevinding gemaak het dat daar ’n geldige klag teen die applikant [NBC] is. Weens die botsing van belange en om die persepsie van vooroordeel te vermy, het ek die klagte na die mediaklagtekomitee verwys,” het Nakuta in sy verklaring gesê.

Die saak is teen Nakuta, die Redakteursforum van Namibië (EFN), die mediaklagtekomitee en die media-appèlkomitee aanhangig gemaak. Partye het Dinsdag in die hoërhof in Windhoek voor regter Shafimana Ueitele verskyn.

KOMITEES NEEM ‘VERKEERDE BESLUIT’

Die NBC eis verder dat die besluit van die mediaklagtekomitee en die media-appèlkomitee dat die NBC die mediakode van etiek oortree het, tersyde gestel moet word.

Die mediaklagtekomitee en -appèlkomitee het bevind dat die NBC nie in sy aanbieding van die program – waarin ’n omstrede kwessie van openbare belang bespreek word – nie ’n redelike poging aanwend het om verskillende standpunte regverdig voor te stel nie.

Die komitees se uitspraak is op 27 Junie gelewer ná 'n openbare verhoor.

Die grondslag van die klag teen die NBC is dat hy betaalde advertensies van die ministerie van myne en energie uitgesaai en dit as nuus aangebied het.

“Die betaalde inhoud was gevul met verdraaiings en opponerende stemme moes die geleentheid gebied word om dit uit te daag,” het die Economic Social Justice-trust beweer.

Die NBC voer egter aan dat dit nie advertensie was nie, maar ’n aktualiteitsprogram wat regverdig aangebied is.

“Alhoewel die paneel uit individue uit die staatsektor bestaan het, is die publiek die geleentheid gebied om regstreeks vrae tydens die uitsending te vra en diegene wat die program aangevra het, is genoeg tyd gegun om vrae te vra. Die aanbieder het die negatiewe sowel as die positiewe impak van die olie-eksplorasie erken,” sê die NBC.

Die NBC beweer dat die komitees versuim het om die bewyse wat hy tydens die verhoor aangebied is, in ag te neem.

“Hul het dit doelbewus geïgnoreer.”

Die voorsitter van klagtekomitee, Jamunonduezu Tjivikua, het in sy verklaring daarop gewys dat die NBC geen beheer gehad het oor die lede van die publiek wat sou inbel nie en daarom nie kon verseker dat hul ’n opponerende standpunt sou hê nie.

“Geen redelike pogings is aangewend om die opponerende siening regverdig weer te gee nie,” het Tjivikua gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!