Johan Meyer Foto verskaf
Johan Meyer Foto verskaf

Negejarige se pa laat vaar eis teen Meyer

Kristien Kruger
Nadat die negejarige Hendrina Mupolo se pa ook besluit het om te skik, is daar tans geen siviele eise meer teen die Mariental-boer, Johan Meyer, nie.

Meyer het na bewering Hendrina in Mei 2022 op sy kleinhoewe raakgery en sy het later in die hospitaal op Mariental aan haar beserings beswyk.

Meyer is gevolglik van strafbare manslag aangekla en is kort ná die voorval borgtog toegestaan.

Hendrina se ma en pa, Elias Mupolo en Annemarie !Auchmus, het aanvanklik gesamentlik die siviele saak teen Meyer gebring en ’n totaal van N$10 110 000 in skadevergoeding geëis.

Hulle het aangevoer dat hul moes toekyk hoe Meyer na bewering hul dogter raakgery het en dit het glo geweldige emosionele skok en trauma veroorsaak.

!Auchmus het glo reeds maande vantevore besluit om te skik, Mupolo het daarna volgehou in sy saak teen Meyer en steeds sowat N$5 miljoen geëis.

Hy het egter ná skikkingsonderhandelinge besluit om ook ’n skikkingsooreenkoms te onderteken.

Regter Collin Parker het Vrydag die saak van die hoërhof in Windhoek se rol geskrap. Geen besonderhede oor die skikking is bekend gemaak nie.



MEYER SE VERKLARING

“’n Kind het skielik agter ’n skuinswal (windrow) opgespring terwyl ek gery het. Sy was reg voor die bakkie. Ek het dadelik na links uitgeswaai en rem getrap,” het Meyer in ’n verklaring gesê wat ingedien is as deel van die siviele verrigtinge.

Hy het glo op daardie betrokke oggend ’n groep mense gesien wat boontjies op sy grond geoes het. Hy het in hul rigting begin ry en glo vir hulle geskree om weg te gaan. Sommige van die mense het weggehardloop.

“Ek wil uitwys ek het baie stadig gery. Ek was in eerste rat en het sowat 10 tot 15 km per uur gery,” het Meyer in sy verklaring aangevoer.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!