• Tuisblad
  • Howe
  • Noble-dwelmsaak: Staat vra vir maksimum vonnis
Grant Noble (links), Dinah Azhar en hul regsverteenwoordiger. Foto Kristien Kruger
Grant Noble (links), Dinah Azhar en hul regsverteenwoordiger. Foto Kristien Kruger

Noble-dwelmsaak: Staat vra vir maksimum vonnis

Vonnisoplegging geskeduleer vir 6 Oktober
Die veroordeelde dwelmhandelaars se verteenwoordiger het 'n voorstel gemaak dat die mans nie tronkstraf opgelê moet word nie.
Kristien Kruger
Grant Noble en Dinah Azhar se regsverteenwoordiger het Vrydag voorgestel dat dié twee veroordeelde kokaïensmokkelaars slegs ’n boete opgelê word in plaas van tronkstraf.

“Die voorstel van slegs ’n boete is heeltemal onvanpas en maak ’n bespotting van ons regstelsel,” het die staatsaankler, mnr. Tangeni Itula, in reaksie hierop gesê en aangevoer die mans moet die maksimum tronkstraf vir dwelmverwante sake van 15 jaar opgelê word.

Noble en Azhar wat in 2018 gepoog het om 412 kg se kokaïen met ’n vraghouer vanaf Brasilië die land in te smokkel, is op 19 Augustus skuldig bevind op ’n klag van handel in ’n gevaarlike verslawende middel.

Partye het Vrydag in die hoërhof in Windhoek verskyn vir finale betoë voor vonnisoplegging waartydens Noble en Azhar se regsverteenwoordiger argumente ter versagting van vonnis gelewer het.

“Indien hulle nie ’n boete ontvang nie, stel ons voor tronkstraf moet vir minstens vyf jaar opgeskort word op die voorwaarde dat hulle nie weer soortgelyke misdrywe pleeg nie,” het hy verder aangevoer.

Itula het na ’n ander saak verwys waar ’n persoon met 28 kg dagga vasgestrek is en tot 10 jaar gevonnis is waarvan vier jaar opgeskort is.

“Hierdie saak handel oor heelwat meer dwelms, asook ’n ander tipe dwelm en vereis daarom ’n soortgelyke of strawwer vonnis,” het Itula aangevoer.

Itula het wel met die verdediging saamgestem dat die tydperk wat Noble en Azhar reeds in aanhouding deurgebring het, ’n versagtende faktor moet wees en kan bydra tot ’n opgeskorte vonnis.

BEROU

Noble en Azhar het nie die getuienisbank ingeneem om ter versagting van vonnis te getuig nie en het slegs by monde van hul regsverteenwoordiger jammer gesê en die hof versoek om genade te toon.

Regter Orben Sibeya het vir Itula gevra om te sê hoeveel gewig hul berou moet dra aangesien hulle gekies het om nie self ten opsigte daarvan te getuig nie.

“Dit is algemene kennis tussen regspraktisyne dat getuienisse baie swaarder weeg as voorleggings van regsverteenwoordigers,” meen Itula.

Sibeya het die vonnisoplegging vir 6 Oktober geskeduleer.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!