FOTO TER ILLUSTRASIE
FOTO TER ILLUSTRASIE

Novecy mág medisyne saamstel

Noodsaaklike medikasie soos chemoterapie
Die hofuitspraak beteken dat Methealth en die verwante mediese fondse Novecy se saamgestelde medikasie moet dek.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht - ’n Samestellende apteek in Windhoek mag voortgaan om medisyne saam te stel om in Namibiërs se bestaande en voorsienbare behoeftes te voorsien.

Novecy Pharmacy mag ook voortgaan om toegang tot saamgestelde medikasie vir Namibiese pasiënte en verskaffers van gesondheidsorg te fasiliteer. Dit is die kruks van regter Shafimana Ueitele se uitspraak in ’n eis wat Novecy in die hoërhof teen onder meer die Namibiese medisynebeheerraad (NMRC), Methealth Namibia Administrators en die registrateur van medisyne ingedien het. Die eis het gevolg ná ’n besluit dat die apteek nie wettiglik toegelaat word om hul saamgestelde produkte te verkoop en te versprei wat teen ’n geldige voorskrif saamgestel is nie.

Die NMRC sowel as die registrateur van medisyne (derde respondent) het Methealth Administrators (Pty) Ltd. (vierde respondent) gevolglik opdrag gegee om geen eise uit te betaal vir medikasie wat deur Novecy saamgestel en verkoop word nie. Methealth is die administrateur van drie mediese fondse.

Ueitele se uitspraak beteken dat Methealth en die verwante mediese fondse Novecy se saamgestelde medikasie moet dek.

Saamgestelde medikasie moet oor die algemeen meer bekostigbaar wees as medikasie wat kommersieel vervaardig word. Die NMRC het beweer dat regulasie 19(2) van die regulasies verwant aan medisyne en verwante middele vereis dat samestelling “uitermate” (extemporaneously) gedoen moet word. Omdat Novecy dit nié so doen nie, het hul saamgestelde medikasie volgens die NMRC neergekom op “kleinskaalse vervaardiging” en was dit gevolglik onwettig.

Ueitele het egter in sy uitspraak dié regulasie as in stryd met die wet verklaar en dit ter syde gestel, wat beteken die bogenoemde vereiste bestaan nie meer nie.

Novecy se samestellende apteker Riana Potgieter het vroeër in haar eedsverklaring beklemtoon die apteek vervul ’n kritieke funksie om saamgestelde medisyne aan pasiënte te verskaf wat andersins nie sulke medisyne sou kon bekostig of by ander apteke kon kry nie.

Sou vervaardigde of generiese medisyne nie in die land beskikbaar wees nie, het apteke geen ander alternatief as om dit aan te koop soos dit deur Novecy saamgestel is nie. Doen hulle dit nie, is pasiënte sonder hul medikasie, wat hoogs riskant vir hul gesondheid kan wees.

Potgieter het ook verwys na veral kankerbehandeling en in veral chemoterapie wat dikwels nie in die land beskikbaar is nie. Gevolglik koop die Namibië Onkologiesentrum (NOC) die saamgestelde chemoterapie van Novecy. Voorbeelde van noodsaaklike medikasie wat deur Novecy saamgestel word, sluit ’n middel wat naarheid beveg in pasiënte wat binneaarse chemoterapie ontvang, stroop wat gebruik word om te verhoed dat babas van MIV-positiewe ma’s die virus deur middel van geboorte of borsvoeding kry, asook ’n antidepressant wat in 2019 van die Namibiese mark gehaal is. Tydens Potgieter se eedsverklaring was bogenoemde nie in Namibië geregistreer nie en ook nie in die kommersiële mark beskikbaar nie.

Novecy is geaffilieer by twee van die drie grootste samestellende groepe ter wêreld, Fagron en Medisa, wat streng in hul eie lande en ook volgens Europese en Amerikaanse standaarde gereguleer word. Die apteek het ook ’n invoerlisensie soos vereis in die wet vir medisyne en verwante middele wat toestemming verleen om rou materiaal wat in medisyne gebruik word (middele) en wat geskeduleer is of nie, in te voer. In die geval van die invoer van skedule 3- en 4-middele, verkry Novecy die vereiste bykomende permit.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 31° Rundu: 19° | 36° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 16° | 34° Tsumeb: 20° | 33° Otjiwarongo: 14° | 30° Omaruru: 15° | 30° Windhoek: 16° | 29° Gobabis: 20° | 35° Henties Bay: 17° | 20° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 20° Rehoboth: 18° | 33° Mariental: 20° | 35° Keetmanshoop: 17° | 34° Aranos: 20° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 16° | 34° Oranjemund: 13° | 23° Luanda: 26° | 28° Gaborone: 21° | 28° Lubumbashi: 17° | 23° Mbabane: 15° | 18° Maseru: 12° | 29° Antananarivo: 18° | 26° Lilongwe: 20° | 24° Maputo: 19° | 27° Windhoek: 16° | 29° Cape Town: 16° | 22° Durban: 17° | 23° Johannesburg: 15° | 25° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 18° | 29° Harare: 18° | 24° #REF! #REF!