’n Groep LGBTQIA+-aktiviste en ondersteuners het ná die Digashu en Seiler-Lilles-uitspraak voor die hooggeregshof bymekaargekom om die uitspraak ten gunste van dié twee selfdegeslagpaartjies te vier. Foto argief/Iréne-Mari van der Walt
’n Groep LGBTQIA+-aktiviste en ondersteuners het ná die Digashu en Seiler-Lilles-uitspraak voor die hooggeregshof bymekaargekom om die uitspraak ten gunste van dié twee selfdegeslagpaartjies te vier. Foto argief/Iréne-Mari van der Walt

Nuwe huwelikswet nog nie van krag

Regulasies nog onder bespreking
Die ministerie kan nog nie klaarheid verskaf oor wanneer hierdie wet na verwagting in werking sal tree nie.
Iréne-Mari van der Walt
Hoewel die publisering van die nuut voorgestelde wet op huwelike in die Staatskoerant ’n storm in die sosiale media ontketen het, verduidelik die uitvoerende direkteur van justisie, Gladice Pickering, dat dié wet nog nie van krag is nie.

“’n Wet moet goedkeuring in die parlement kry en dan word dit deur die president onderteken voor dit in die Staatskoerant gepubliseer word.

“As jy na die wet op ons webhulpbron, NamibLII, kyk, staan daar ‘assented to on 2 October 2024’. Dis die datum waarop die president dit onderteken het – en dan ‘not commenced’ wat beteken dat dit nog nie van krag is nie,” verduidelik sy.

Pickering sê sy kan nog nie klaarheid verskaf oor wanneer hierdie wet na verwagting in werking sal tree nie.

“Die ministerie van binnelandse sake is die bewaarders (custodians) van dié wet, dus moet hulle eers die regulasies rondom hierdie wet finaliseer,” sê sy.



LAC

Die direkteur van die Regshulpsentrum (LAC), Toni Hancox, meen die nuwe wet op huwelike kan in ’n mate die hooggeregshof van sy magte ontneem indien dit ’n uitdaging in daardie einste hof sou weerstaan.

“Die hooggeregshof se uitspraak [in die Digashu- en Seiler-Lilles-saak] sal deur die nuwe wet tot niet gemaak word.

“Slegs die hooggeregshof kan sy uitsprake wysig. Hierdie wet is direk teenstrydig met daardie uitspraak, so in wese is die wetgewende arm besig om die regbank van sy posisie te ontneem,” sê sy.

Hancox verduidelik dat, indien die presedent geskep word, beleidsmakers in die toekoms nuwe wette mag maak om uitsprake in die hooggeregshof te omseil indien hulle ontevrede is met dié hof se beslissings.

Sy verduidelik ook dat enige gevolge van die hooggeregshof se uitspraak in gevalle soos dié van die Digashu- en Seiler-Lilles-egpare nie meer geldig sou wees nie.

“Aangesien die nuwe wet spesifiek bepaal dat enige huwelik wat in die verlede, hede of toekoms voltrek is wat teenstrydig is met hierdie wet, nie in Namibië erken sal word nie, beteken dit dat enige immigrasiedokumentasie wat ingevolge daardie uitspraak uitgereik is eenvoudig nie meer geldig sal wees nie,” verduidelik Hancox.

Die Digashu- en Seiler-Lilles-egpare het in Mei verlede jaar ’n uitspraak ontvang wat beveel het dat die ministerie van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit hul huwelike wat in die buiteland voltrek is moes erken.

Die ministerie is deur ’n volbank regters, bestaande uit hoofregter Peter Shivute, adjunkhoofregter Petrus Damaseb asook appèlregters Dave Smuts en Elton Hoff, beveel om aan Annette Seiler en Johann Potgieter se buitelandse eggenote, Anita Seiler-Lilles en Daniel Digashu, dieselfde immigrasievoordele toe te staan wat in die geval van ander huwelike toegestaan word.

Die menseregteprokureur Norman Tjombe sê egter dat Namibiërs wat ontevrede is met dié nuwe wet of enige ander wet die howe met ’n aansoek kan nader.

“Die koste is ’n heel ander gesprek, maar daar is instansies wat sal help met hierdie soort aansoeke,” sê hy.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer