Nuwe regters ná eerste openbare onderhoude

Besluit oor Makando steeds onbekend
Kristien Kruger
Nuwe regters ná eerste openbare onderhoude

Die uitkoms van die Regterlike Dienskommissie se openbare onderhoude van drie kandidate vir die aanstelling as regters van die hoërhof, is bekend gemaak met betrekking tot twee kandidate.

Die uitkoms van die derde kandidaat, adv. Slysken Sikiso Makando, is egter nog onbekend.

Makando het in aanloop tot die openbare onderhoude, wat op 8 Desember 2023 plaasgevind het, in die nuus verskyn met betrekking tot 14 klagte van onprofessionele gedrag waarop die Regsvereniging van Namibië (LSN) se dissiplinêre komitee vir regspraktisyns hom skuldig bevind het.

Die klagte was gebaseer op die bewerings dat hy trustgeld in 2004 wanbestee en die reëls van die Prokureursorde oortree het.

Hy het egter tydens die openbare onderhoude die paneel verseker sy skuldigbevinding sal nie sy kandidaatskap beïnvloed nie en dat die kwessies tussen hom en die LSN uitgestryk is.

Die woordvoerder van die regbank, Vikitoria Hango, het gister aan Republikein gesê sy is nie in die posisie om te bevestig of Makando aangestel sal word of nie, maar dat hulle steeds op ’n verklaring van die Regterlike Dienskommissie wag.

VAN UNAM TOT HOËRHOF

Philanda Christiaan het in 2004 uit die Universiteit van Namibië (Unam) se deure gestap en begin om die regsberoep se leer te klim en is ná die openbare onderhoude as regter van die hoërhof aangestel.

Sy het jare lank op Keetmanshoop as landdros gedien en is later as die hooflanddros van die land aangestel.

President Hage Geingob het Christiaan op 13 Desember 2023 as ’n regter van die hoërhof aangewys op aanbeveling van die Regterlike Dienskommissie.

Christiaan het reeds verlede jaar as waarnemende regter van die hoërhof gedien, maar haar aanstelling as regter is op 1 Januarie 2024 amptelik gemaak met haar inswering.

As waarnemende regter het Christiaan reeds twee prominente strafregtelike sake aangehoor. Een daarvan is die saak waarin die vermeende pedofiel, Johann Maree, aangekla word van verkragting van verskeie jong seuns in Windhoek. Die ander saak is die asdrommoord-verhoor waar drie mense daarvan beskuldig word dat hulle ’n negejarige meisie vermoor, in ’n munisipale vullisdrom gegooi en aan die brand gesteek het.

Christiaan het verlede jaar dié twee sake se voorverhoorverrigtinge aangehoor en al twee verhore is geskeduleer om vanjaar te begin.

DE JAGER VANDAG INGESWEER

Beatrix de Jager sal vandag ingesweer word as waarnemende regter van die hoërhof vir die tydperk vanaf 16 Januarie tot 16 April 2024.

De Jager het vanaf Maart 2003 tot Julie 2004 by die kantoor van die staatsprokureur haar klerkskap gedoen en is op 19 Julie 2004 as regspraktisyn toegelaat. Sy het as sodanig by die kantoor van die staatsprokureur gepraktiseer en het later by Kirsten & Co aangesluit tot November 2008.

De Jager was by die Namlex Chambers en het gespesialiseer in onder meer die administrasie van testamente en boedels, grondwetlike reg, menseregte, die Bankwet en arbitrasie.

ONDERHOUDE

Dit is die heel eerste keer dat onderhoude vir kandidaatregters in die openbaar gehou is en volg nadat die Regterlike Dienskommissie in September vanjaar besluit het om die regulasies te wysig.

Dié verandering is gemaak om deursigtigheid in die regbank te bevorder.

Die paneellede vir die onderhoud het hoofregter Peter Shivute, regterpresident Petrus Damaseb, die prokureur-generaal Festus Mbandeka, en twee lede van die regsgemeenskap, naamlik adv. Sakeus Akweenda en Elias Shikongo ingesluit.

Die kommissie moes ná die onderhoude aanbevelings maak aan Geingob wat ingevolge die Grondwet die mag het om regters aan te stel.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 24° | 37° Rundu: 19° | 33° Eenhana: 21° | 25° Oshakati: 20° | 26° Ruacana: 21° | 27° Tsumeb: 20° | 27° Otjiwarongo: 17° | 25° Omaruru: 20° | 31° Windhoek: 19° | 27° Gobabis: 19° | 27° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 22° Rehoboth: 21° | 32° Mariental: 24° | 35° Keetmanshoop: 21° | 34° Aranos: 23° | 35° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 20° | 34° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 20° | 29° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 28° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 23° | 39° Windhoek: 19° | 27° Cape Town: 18° | 22° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 16° | 24° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 22° | 35° Harare: 22° | 33° #REF! #REF!