Nuwe ‘tuiste’ vir advokate

‘Geen kwade gevoelens’
The Namibian Bar Association is amptelik op 16 Desember gestig met 'n grondwet wat aan uiteenlopende behoeftes voldoen.
Kristien Kruger
“Jy lewer ’n diens aan die publiek en dis ’n klomp geld om ’n advokaat aan te stel. Die minste wat ons kan doen, is om die beste diens te lewer teen die beste tarief moontlik.”

So sê adv. Marius Boonzaier wat op 29 Januarie as voorsitter van die nuutgestigde Namibian Bar Association verkies is.

“Ons is baie opgewonde. Dit is nie elke dag wat so iets gebeur nie,” sê hy.

Boonzaier se kollega en vriend, adv. Abraham (Apie) Small, is as die sekretaris en tesourier aangewys, en adv. Herman Steyn het die vereniging se grondwet geskryf.

“Ek het die grondwet van ’n skoon bladsy af begin. Ek het gesien hier is ’n geleentheid vir ’n nuwe begin,” vertel Steyn.

Een van die grondwet se bepalings stipuleer dat die vereniging ’n tuiste vir sy lede moet wees, waar hulle kennis, vaardighede, inligting en ervaringe met mekaar kan deel.

“Mense moet lekker tuis hier voel.”

MODERN EN BUIGSAAM

Die Namibian Bar Association se grondwet maak dit moontlik vir sy lede om van enige ligging te praktiseer.

“Die grondwet is gemoderniseer. Dit is baie buigsaam en dit maak voorsiening vir verskillende groepe van die samelewing om te kan praktiseer, omdat almal nie noodwendig kamers in die begin kan bekostig nie,” meen Boonzaier.

Volgens hom kan dit ook ideaal wees in gevalle waar ouers graag van die huis af wil praktiseer of afgetrede advokate wat nie meer die onkostes wil aangaan om voltydse kamers (soos advokate en regters graag hul kantore noem) te hê nie.

“’n Individu kan van sy huis af praktiseer en kan steeds ’n lid van ons vereniging wees. Die persoon het dan steeds toegang tot ’n raadsaal en sagteware vir navorsing. Die geriewe is hier – vir ’n fraksie van die koste,” verduidelik Boonzaier.

‘NIE IN OPPOSISIE’

Small en Boonzaier was beide lede van die Society of Advocates of Namibia, wat tot dusver die enigste vereniging vir advokate in die land was.

Ná hulle egter die geleentheid gekry het om hulle eie kamers te koop, het hulle aansoek by die Society of Advocates gedoen om van daar af te praktiseer. Hulle aansoek is egter in September verlede jaar van die hand gewys en daarna is die idee van ’n nuwe vereniging gebore.

“Ons is nie in opposisie met hulle [Society of Advocates] nie en ons is nie daar om lede af te rokkel nie. Die idee het regtig spontaan ontstaan. Die geleentheid het net opgespring.”

Volgens Steyn pas die Society of Advocates reëls toe wat nie meer aan hulle behoeftes voldoen het in terme van waar jy jou kamers kan hê nie.

“Dit is nie omdat ons kwaad is nie, ons behoeftes is net nie daar vervul nie; veral wat die kamers aanbetref,” het Steyn gesê.

Boonzaier het ook beklemtoon dat die vereniging nie met prokureurs meeding nie.

“Ons is steeds ’n ‘referral profession’. ’n Lid van die publiek kan nie net na ons toe kom nie, hy moet steeds ’n verwysing van ’n prokureur ontvang. Dit is soos die verskil tussen ’n algemene praktisyn en ’n spesialis. Jy kan nie na die spesialis gaan sonder ’n verwysing nie,” verduidelik hy.

BEHOEFTES

Volgens Boonzaier was daar ook ander behoeftes, buiten vir die kwessies oor kamers, wat die vereniging geïdentifiseer het en in ag geneem het om “tred te hou met die lewe”.

“Ons grondwet is so opgestel dat ’n persoon wat vir 20 jaar ’n advokaat is, outomaties kwalifiseer om ’n senior advokaat te word,” het Boonzaier gesê.

Steyn het bygevoeg dat in sulke gevalle die advokaat steeds daarvoor moet aansoek doen.

“Ons sê wel as jy 20 jaar as advokaat kon oorleef, dan moet jy iets werd wees,” het Steyn beaam.

GEEN GEHEIME

Nog ’n bepaling in die vereniging se grondwet – wat verskil van talle ander oraloor die wêreld – is dat ’n individu nie ’n lid van die vereniging mag wees as hulle ’n lid van ’n geheime organisasie is nie.

“Dit gaan oor objektiwiteit. As jy vir ’n kliënt optree, moet jy saam met daardie persoon in die loopgraaf kan lê en ’n pad stap en nie beïnvloed word deur eksterne faktore nie,” het Boonzaier gesê.

“Openlikheid en deursigtigheid is belangrik vir ons,” het Steyn beaam.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!