Omstrede psigiater weer in hof

Ondersoek nog nie voltooi
Nadat hy in 2021 onskuldig bevind is op 'n klag van verkragting, is dr. Pieter van der Westhuizen weer in die hof vir beweerde aanranding.
Kristien Kruger
Precious Nghitaunapo – ’n Psigiater van Swakopmund wat twee jaar gelede onskuldig aan onder meer die verkragting van ’n pasiënt bevind is, het gister vir die tweede keer in die landdroshof op dié kusdorp op ’n klag van aanranding, saamgelees met die wet op huishoudelike geweld, verskyn.

Dr. Pieter van der Westhuizen is in 2021 onskuldig bevind op ’n klag dat hy ’n vrou in 2015 in sy spreekkamer op Swakopmund bedwelm en verkrag het.

Gister se verskyning in die landdroshof op die dorp volg nadat sy vrou, Sonja van der Westhuizen, hom van aanranding aangekla het. Van der Westhuizen is op 3 Julie in hegtenis geneem en is nege dae later op borgtog van N$2 000 vrygelaat. Die saak is tydens gister se verrigtinge voor landdros Sally Salionga tot 9 November vir verdere ondersoek uitgestel.

Sy vrou het drie beskermingsbevele teen hom gekry wat hy oortree het. Sy het ook intussen ’n aansoek ingedien vir ’n egskeiding.

Van der Westhuizen het destyds tereggestaan op vyf klagte – drie vir verkragting, een vir onsedelike aanranding en een klag van poging tot moord omdat hy ’n getroude vrou en ma van twee kinders na bewering ’n oordosis medikasie ingegee het voordat hy haar glo verkrag het.

Volgens die hofstukke het Van der Westhuizen na bewering ’n oordosis Ritalin-, Valium- en Ativan-tablette aan die vrou gegee. Die slagoffer is glo ook alkohol ingegee.

Hy het beweer hy het erektiele disfunksie ten tyde van die beweerde voorval gehad en kon sedert ongeveer 2010 nie seksuele omgang hê nie. Die voorval het op 7 November 2015 plaasgevind. ’n Uroloog het tydens die verhoor getuig en bevestig dat hy in 2015 erektiele disfunksie gehad het en dit daarom vir hom onmoontlik was om omgang te hê ten tyde van die beweerde voorval.

Regter Eileen Rakow het in Augustus 2021 beslis die staat het nie genoegsame bewyse voor die hof gebring om hom skuldig te bevind nie. Sy het ’n aansoek van die staat vir verlof tot appèl in Desember 2021 van die hand gewys.

Van der Westhuizen word tans deur Danie Kotze verteenwoordig, terwyl Sara Kandume as staatsaanklaer optree. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer