FOTO PEXELS
FOTO PEXELS

Omstrede tender op ys

Wag op uitslag van hersieningspaneel
Africure Pharmaceutical Namibia het 'n dringende aansoek in die hoërhof gebring vir 'n bevel wat Cospharm en die CPBN verbied om die betrokke tender te implementeer of uit te voer.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Cospharm Investments (Edms) Bpk en die Sentrale Verkrygingsraad van Namibië (CPBN) word verbied om enige verkrygingskontrak wat deur die raad aan dié maatskappy toegeken is, te implementeer of uit te voer.

Dit volg nadat Africure Pharmaceutical Namibia (Pty) Ltd gister ’n dringende aansoek in die hoërhof gebring het vir ’n bevel wat Cospharm en die CPBN verbied om tender G/OIB/CPBN01/2022 te implementeer of uit te voer, hangend die uitkoms van ’n hersieningsaansoek wat op 11 Augustus gebring is.

Regter Boas Usiku het ook beveel dat Cospharm en die CPBN Africure se kostes moet betaal.

Aansoeke vir die bogenoemde tender het verlede jaar op 8 November gesluit en op 26 April vanjaar het die CPBN aangekondig Africure was een van die suksesvolle bieërs en het opdrag gekry om farmaseutiese produkte ter waarde van N$123 miljoen te verskaf.

Cospharm was onsuksesvol en het op 2 Mei ’n aansoek vir heroorweging by die CPBN ingedien. In terme van die Verkrygingswet was die raad verplig om sy besluit op 26 April binne sewe dae te heroorweeg en Cospharm van sy gevolglike besluit in te lig. Dit het egter nie gebeur nie en Cospharm het ’n hersieningsaansoek op 24 Mei by die hersieningspaneel ingedien. Twee dae later het die raad Cospharm in kennis gestel van sy besluit om die versoek vir heroorweging toe te staan en die Tenderevalueringskomitee gelas om die maatskappy se tender te herevalueer.

Op 6 Junie het Cospharm sy aansoek vir hersiening by die paneel onttrek en sowat twee maande later het die raad ’n nuwe kennisgewing op 3 Augustus uitgereik waarin ’n tender van N$1,3 miljard aan Cospharm toegeken is.

Die waarde van Africure se toekenning is ook van N$123 miljoen na N$45 miljoen verminder. Africure het gevolglik ’n hersieningsaansoek op 11 Augustus by die hersieningspaneel ingedien, wat die besluit uitdaag wat ontstaan het weens Cospharm se aansoek om heroorweging van die reusetender.

Die CPBN het middel Augustus aanvaardingsbriewe aan alle suksesvolle tenderaars gestuur waarin versoek is om binne 30 dae 10% van die kontrakwaarde as sekuriteit te verskaf. As dit nie sou gebeur nie, sou ’n ander tenderaar gevolglik gekies word.

AGTERGROND

Die CPBN se besluit om ’n kontrak ter waarde van N$1,3 miljard toe te ken aan ’n maatskappy – waarin ’n vyfjarige meisie die meerderheidsaandeel het – om farmaseutiese produkte aan die regering te verskaf, het ander tenderaars dronkgeslaan.

Die feit dat Cospharm aanvanklik uit die wedloop geskakel is en appèl aangeteken het, net om daarna die tender te wen, het die tender van meer as ’n miljard in omstredenheid gedompel. Die maatskappy is aanvanklik gediskwalifiseer omdat hy glo die tenderprys op die dokumentasie gewysig het sonder om langs die verandering te parafeer.

Cospharm behoort aan die Zimbabwiese sakeman Cosmos Mukaratirwa (49%) en sy kind, ’n Namibiese burger, wat 51% besit, volgens die maatskappy se rekords.

Mukaratirwa was ook sowat drie jaar gelede in die kollig nadat hy na bewering ongeregistreerde medisyne ter waarde van N$657 800 aan die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste verkoop het. Hy is toe op ’n waarskuwing vrygelaat.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!