• Tuisblad
  • Howe
  • Ondersoeker identifiseer wielspore, skoenafdrukke
Moordbeskuldigde mnr. Ernst Lichtenstrasser en sy regsverteenwoordiger, mnr. Albert Titus, in die hoërhof in Windhoek. Foto Stefan Noechel.
Moordbeskuldigde mnr. Ernst Lichtenstrasser en sy regsverteenwoordiger, mnr. Albert Titus, in die hoërhof in Windhoek. Foto Stefan Noechel.

Ondersoeker identifiseer wielspore, skoenafdrukke

Lichtenstrasser-moordverhoor
Die polisie het mnr. Ernst Lichtenstrasser se wielspore tot in die woestyn gevolg waar die moontlike moordwapen gevind is waar dit onder 'n klip begrawe was.
Stefan Noechel
’n Lid van die ondersoekeenheid van die Namibiese polisie het Maandag in mnr. Ernst Lichtenstrasser se verhoor getuig.

Hoofinspekteur Rafael Litota was een van die eerste beamptes wat Lichtenstrasser ná sy inhegtenisneming ondervra het.

Luidens Litota se getuienis was Lichtenstrasser aanvanklik gewillig om te praat. Hy het glo gesê: “Ouens, julle het die verkeerde man. Dit was nie ek nie. Kom ek verduidelik wat gebeur het.”

Lichtenstrasser het na bewering vir hom gesê hy en sy vrou het baklei waarna hy hul huis met 'n bottel whiskey en twee bottels wyn verlaat het. Hy het twee dae in die woestyn gekamp om af te koel en te kalmeer. Hy kon nie vir die polisiebeampte sê presies waar in die woestyn hy gekamp het nie. Die dag toe hy terug huis toe wou gaan, is hy op Karibib by die vulstasie in hegtenis geneem.

Litota het ongeveer 'n week ná die moord op twee direkteure van die Namibiese Instituut van Mynbou (Nimt), Eckhart Mueller, en sy adjunk, Heimo Hellwig, op sy eie inisiatief na leidrade agter Nimt se Arandis-kampus gaan soek.

WIELSPORE, MOORDWAPEN

’n Ooggetuie het gesê ’n wit bakkie het die oggend van die insident vanaf die Nimt-kampus die woestyn ingery.

Litota het na Lichtenstrasser se voertuig (wit Nissan NP300) se bande gekyk en het die spore gevolg. Die wielspore het na ’n grondpad langs die treinspoor gelei tot by 'n spoorwegbrug waar hy ook sy skoenafdrukke – swart Caterpillar-skoene wat hy gedra het met sy inhegtenisname – kon identifiseer.

Die polisie het sowat ’n week of twee later, met Litota se hulp, weer dieselfde pad geloop waar hulle uiteindelik ’n wapen gevind het wat onder 'n klip begrawe was.

Voor die moontlike moordwapen in die woestyn gevind is, was Litota se taak om Lichtenstrasser se wapens en die koeëldoppies op 'n skietbaan by 'n vriend se plaas naby Tsumeb en dié by Lichtenstrasser se woning op Otavi in te samel.

Hoewel verskeie getuies se verklarings aandui Lichtenstrasser het nooit 'n pistool besit nie, nie 'n wapenlisensie vir een gehad het nie en slegs teiken geoefen het met 'n rewolwer wat hy wettiglik besit het, het Litota nietemin 'n plastieksak vol 9 mm-patroondoppies in 'n kombuiskas in Lichtenstrasser se huis gevind.

Die verhoor duur voort.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!