Die hoërhof in Windhoek Foto Argief
Die hoërhof in Windhoek Foto Argief

Onsuksesvolle bieër verloor hofdispuut

Hof beslis ten gunste van Verkrygingsraad
'n Hersieningsaansoek om 'n tendertoekenning vir die waardasie van diamante uit te daag, is vandeesweek van die hand gewys.
Kristien Kruger
Die hoërhof in Windhoek het onlangs uitspraak gelewer in ’n hofdispuut oor ’n tender vir die waardasie van diamante en het in die guns van die Sentrale Verkryingsraad van Namibië en die hersieningspaneel beslis.

Global Diamond Valuators Namibia het gepoog om die raad se besluit van 9 Mei 2019 – om dié tender aan Gem Diamonds toe te ken – te hersien en tersyde gestel te kry.

Hulle het verder die hof versoek om al die ooreenkomste tussen die raad, ministeries en Gem Diamonds ten opsigte van die bodtoekenning, ongeldig te verklaar.

Regter Eileen Rakow het Dinsdag die aansoek van die hand gewys.

Global Diamond Valuators het beweer die bodtoekenning is teenstrydig met artikel 18 van die Namibiese Grondwet, en het aangevoer die suksesvolle kandidaat [Gem Diamonds] het nie die bodinstruksies nagekom nie.

Gem Diamonds het na bewering versuim om die totale bedrag van sy bod te vermeld. In die spesifieke bod moes die bieërs ook die eenheidspryse verskaf.

Die tender het gestipuleer dat Fase 3 ’n gewig van 25 persent van die totale puntetelling sal dra, asook dat pryse vir waardasies – wat op Namdeb-produksie gebaseer is en die van onafhanklike produsente – as ’n persentasie van die totale waarde van die pakkie aangedui sal word.

Aan die ander kant sal pryse in terme van die verskaffing van dienste en waardasie van geslypte diamante in N$ per uur aangedui word.

Gem Diamonds het die saak teengestaan en het aangevoer die hersieningspaneel het die regte besluit geneem om die tender aan hulle toe te ken.

Hulle het ook aangevoer daar was ’n onredelike vertraging in die instelling van Global Diamond Valuators se hersieningsaansoek. Die bod is op 30 Julie 2019 toegeken en die huidige hersieningsaansoek is eers op 20 Desember 2019 gebring.

UITSPRAAK

Die hof het tot die gevolgtrekking gekom dat die vertraging van amper vyf maande wel onredelik was.

“Hulle het niks gedoen tot Desember 2019 nie, aangesien die maatskappy geglo het dat beide die ministers van finansies en myne en energie die tendertoekenning tersyde sal stel.

“Daar is egter geen bewyse dat die applikant [Global Diamond Valuators] gereeld by dié ministeries navraag gedoen het of hulle wel die toekenning tersyde gaan stel en die proses gaan kanselleer nie. Die hof meen hulle moes ten minste vroeër as 20 Desember 2019 opgetree het.”

Die saak is afgehandel en van die rol geskrap.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!