Die Hardap korrektiewe geriewe op Mariental. Foto Argief
Die Hardap korrektiewe geriewe op Mariental. Foto Argief

Ontvang N$50 000 ná aanranding in tronk

Eis teen minister gedeeltelik suksesvol
Hoewel die hof bevind het dat die gevangene wel aangerand is, is geen bewyse gelewer om die erns van sy beserings te bepaal nie.
Kristien Kruger
’n Gevangene van die Hardap korrektiewe geriewe op Mariental was gedeeltelik suksesvol in sy eis teen die minister van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit nadat ’n tronkbewaarder hom aangerand het.

Wilfred Rooi is sedert Augustus 2016 ’n gevangene en het beweer hy is in Maart 2021 op sy privaat dele geskop en met ’n vuis en knuppel in die gesig geslaan. Hy het N$650 000 in skadevergoeding geëis

Die hoërhof in Windhoek het Dinsdag ’n hofbevel uitgereik wat die minister, die hoof van die Namibiese Korrektiewe Dienste (NSC) en die tronkbewaarder wat Rooi aangerand het, Joseph Jerobeam, beveel het om N$50 000 aan hom te betaal.

Volgens regter Eileen Rakow se uitspraak was die hof tevrede dat Jerobeam wel vir Rooi aangerand het, maar daar is nie genoegsame bewyse gelewer om te bewys dat Rooi enige sielkundige lyding ervaar het weens sy beserings nie.

“Die eiser sê die derde verweerder [Jerobeam] het hom tussen die bene geskop en dat hy baie pyn moes verduur en sedertdien nie ’n ereksie kon kry nie. Daar is egter geen mediese verslag voor die hof wat dit kan staaf nie en daarom kan die eis nie slaag nie.”

“Die hof kan nie op die eiser [Rooi] se woord alleen staatmaak nie,” het Rakow in haar uitspraak gesê.

Rakow het verder ook gewys op die verskeie wette oor betaalbare bedrae vir algemene skadevergoeding en beslis dat Rooi die standaard algemene bedrag moet ontvang.

“Die algemeen aanvaarde bedrag vir skadevergoeding is N$50 000. Ek is tevrede dat hierdie saak binne die omvang van die algemeen aanvaarde bedrag vir skadevergoeding val.”

REGKOSTE

Ingevolge die hofbevel is geen kostebevel gemaak nie.

“Die eiser [Rooi] het regshulp ontvang. Ingevolge die wet op regshulp, sal geen kostebevel teen die staat gemaak word rakende enige verrigtinge ten opsigte waarvan regshulp verleen is nie. Deur die toepassing van bogenoemde bepaling en die feit dat die eiser geen koste aangegaan het waarvoor hy vergoed behoort te word nie, sal die hof dus geen kostebevel toestaan nie, selfs al was hy gedeeltelik suksesvol in sy eis,” lui die uitspraak.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!