Oorsaak van Wasserfall se dood nog nie vasgestel
Saak uitgestel tot 6 Maart
Die dokter wat die nadoodse ondersoek op Shanon Wasserfall uitgevoer het, kon nie bepaal wat die oorsaak van haar dood was nie.
Die nadoodse ondersoek van wyle Shanon Wasserfall kon nie die oorsaak van haar dood vasstel nie.
Dr. Simasiku Kabanje, wat in 2020 verantwoordelik was vir die nadoodse ondersoek, het verlede week in die hoërhof in Windhoek getuig dat die oorsaak van Wasserfall se dood nie bepaal kon word nie en dat daar geen frakture aan haar skedel of tekens van trauma aan haar beendere was nie.
Hy het aan die hof gesê die gebrek aan enige skedelfrakture is nie voldoende bewyse om een van die moordbeskuldigdes, Azaan Madisia, se weergawe van gebeure as 'n moontlikheid uit te skakel nie. Volgens Kabanje kon Wasserfall aan sagte weefsel-beserings beswyk het.
Madisia se skulderkenning is verlede week in die hof voorgelees, waarin sy aangevoer het dat sy vir Wasserfall gestamp het waarna sy (Wasserfall) oor die bed geval en nie weer opgestaan het nie.
"Trauma wat deur 'n stomp voorwerp toegedien is kan wel 'n fraktuur veroorsaak, maar dit is nie altyd die geval nie. Daar kon bloeding binne die skedel gewees het - of daar 'n fraktuur is of nie. Nie alle kopbeserings wat tot iemand se dood lei, toon skedelfrakture nie," het hy gesê.
Kabanje het ook getuig oor die verkleuring van Wasserfall se vel, waarna die ander moordbeskuldigde, Steven Mulundu, in vorige verklarings verwys het. Volgens Kabanje is die bloupers verkleuring in Wasserfall se vel waarskynlik die resultaat van livor mortis – ook bekend as nadoodse hipostase – ’n proses ná iemand se dood wanneer die bloed as gevolg van swaartekrag na onder loop. Dit word gekenmerk deur ’n blouerige skynsel op die vel.
TEENSTRYDIGE VERKLARINGS
Volgens getuienis tydens verlede week se hofverrigtinge het Mulundu glo twee teenstrydige polisieverklarings afgelê.
Speurinspekteur Johan Geiseb het getuig dat Mulundu op 9 Oktober 2020 ’n verklaring by hom afgelê het. Dit was glo voor hy ’n verdagte in die polisie se ondersoek geword het. Mulundu het na bewering in dié verklaring gesê hy het sy suster en medebeskuldigde gehelp om haar werksvoertuig uit die modder naby Dunes Mall te kry. Dit was glo op die dag van Wasserfall se verdwyning. Madisia het na bewering vir haar broer gesê sy wou ’n kortpad na die vullishoop neem. Volgens Mulundu het hy glo bokse agterin Madisia se voertuig opgemerk toe hulle by haar huis aangekom het, maar dit het nie sy agterdog gewek nie.
Geiseb het verder getuig dat Mulundu ’n tweede verklaring op 6 November 2020 afgelê het. Hy het glo in dié verklaring erken dat hy gehelp het om van Wasserfall se liggaam ontslae te raak. Mulundu het na bewering in sy tweede verklaring gesê dat hy bloed op Wasserfall se kop gesien het. Madisia het in haar skulderkenning gesê daar was geen bloed op die toneel nie en dat Wasserfall nie gebloei het nie. Mulundu se skulderkenning maak egter melding van bloedmerke op die toneel.
Sy regsverteenwoordiger, Tanya Klazen, het egter aangevoer dat Mulundu nie ’n kans gegun is om sy verklaring weer deur te lees nie. Sy het aan Geiseb gestel dat Mulundu nie gesê het hy het bloed op Wasserfall se kop gesien nie, maar dat hy slegs bloed teen die muur gesien het. Klazen het gesê Mulundu is direk nadat hy die verklaring afgelê het, na die hof gehaas en het nie die verklaring weer onder oë gehad nie. Mulundu het na bewering verskeie kere gevra om die verklaring deur te lees, maar sy versoek het op dowe ore geval. Geiseb het daarop geantwoord dat Mulundu glo vir niks anders as sigarette gevra het nie.
“Ek is ontbied om hom te sien, maar hy het net gevra om te rook. Hy het gesê hy raak lighoofdig as hy vir lang tye nie rook nie,” het hy getuig.
MADISIA GAAN GETUIG
Madisia se regsverteenwoordiger, Albert Titus, het aangedui dat sy die enigste getuie is wat hulle sal roep. Klazen het namens Mulundu aangedui dat hulle 'n aansoek in terme van die strafregproseswet sal bring rakende die klagte van moord en roof. Regter Christie Liebenberg het aangedui dat hy op 6 Maart, wanneer die verhoor hervat, uitspraak oor Mulundu se aansoek sal lewer.
[email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie