• Tuisblad
  • Howe
  • Opnames nie toelaatbaar in MTC-korrupsiesaak
Sara Damases en Dirk Conradie. Foto argief
Sara Damases en Dirk Conradie. Foto argief

Opnames nie toelaatbaar in MTC-korrupsiesaak

Weens die dood van ’n sleutelgetuie
Twee eienaars van 'n reklamemaatskappy het na bewering die stemopnames tydens 'n ontmoeting met die twee beskuldigdes gemaak.
Iréne-Mari van der Walt
Regter Thomas Masuku het onlangs in die hoërhof beslis dat potensieel inkriminerende stemopnames in die verhoor van Dirk Conradie en Sara Damases nie toelaatbaar is nie.

Mark Bongers en Kim Fields, beide eienaars van die reklamemaatskappy DV8 Saatchi & Saatchi, het na bewering die stemopnames tydens ’n ontmoeting met Conradie en Damases gemaak.

Bongers en Fields se maatskappy was in daardie stadium een van die maatskappye wat oorweeg is vir ’n reklamekontrak ter waarde van N$60 miljoen met MTC, by wie Conradie die raadsvoorsitter was.

In dié opnames het Conradie glo vir Bongers en Fields gesê dat DV8 Saatchi & Saatchi nie die gunstelingkandidaat vir die kontrak is nie, maar dat hy egter gesprekke in hul guns kan swaai indien hulle vir Damases as hul swartbemagtigingsvennoot sou inneem.

Wyle dr. Paul Ludik het die opnames van Bongers se selfoon verkry en die staatsaanklaer Ed Marondedze het die opnames voorlopig as bewysstukke ingedien.

Die beskuldigdes het beswaar gemaak teen die gebruik van die opnames as bewysstukke aangesien Ludik oorlede is en dus nie kan getuig oor die oorsprong of wettigheid van die opnames nie.

Die beskuldigdes sou hom dus ook nie kon kruisondervra nie. Masuku het beslis dat die toelating van die opnames juis om dié rede inbreuk sou maak op die beskuldigdes se reg tot ’n regverdige verhoor.

Indien die opnames as bewysstukke toegelaat word, sou die staat die wettigheid van die opnames moes bewys.

Masuku het beslis dat Ludik se getuienis kwessies rakende die wettigheid van die opnames asook die prosesse wat gevolg is om dit te verkry, sou kon verduidelik. Sy getuienis sou ook volgens hom die moontlikhede van inmenging en manipulasie van die opnames moes uitskakel.

Conradie en Damases staan gesamentlik tereg op drie aanklagte ingevolge die Teenkorrupsiewet. Hulle verhoor sal op 21 September hervat.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!