Die bedrogbeskuldigde Ricardo Nestor en sy regsverteenwoordiger, Albert Titus. Foto Argief
Die bedrogbeskuldigde Ricardo Nestor en sy regsverteenwoordiger, Albert Titus. Foto Argief

Oud-polisieman se bedrogsaak duur voort

Reeds vrygespreek op ses aanklagte
Ricardo Nestor se saak is tot 19 April uitgestel vir slotbetoë voor uitspraak.
Kristien Kruger
Die voormalige polisiebeampte, Ricardo Nestor, wat aanvanklik aangekla is van bedrog ter waarde van meer as N$10 miljoen, het vandeesweek in die hoërhof in Windhoek die getuienisbank ingeneem en sy saak afgesluit.

Nestor staan egter nou net tereg op drie aanklagte van bedrog in verband met N$720 000 nadat die hof hom vrygespreek het op ses van die aanklagte. Nadat die staat verlede jaar hul saak afgesluit het en Nestor vrygespreek is op die aanklagte, het sy verhoor verlede Dinsdag hervat.

Hy het getuig en daarna het sy regsverteenwoordiger, Albert Titus, hul saak afgesluit sonder om enige verdere getuies te roep.

Die saak is tot 19 April uitgestel vir slotbetoë voor die hof sy beslissing bekend sal maak oor sy skuld of onskuld.

‘NIE GENOEGSAME BEWYSE’

Nadat die staat sy saak afgesluit het, het Nestor ’n aansoek om vryspreking ingevolge afdeling 174 van die Strafproseswet gebring en aangevoer dat die staat nie genoegsame bewyse gelewer het vir die hof om hom skuldig te bevind op die klagte teen hom nie.

Regter Philanda Christiaan het Nestor in November vrygespreek op ses van die nege aanklagte waarop hy tereggestaan het. Sy het bevind dat hulle nie daarin geslaag het om ’n saak bo redelike twyfel teen Nestor te bewys nie.

Christiaan het verder gesê die staat se saak is hoofsaaklik gebaseer op omstandigheidsgetuienis terwyl daar geen direkte bewyse is wat Nestor met die misdade wat gepleeg is, verbind nie.

“Daar is geen feite voorgelê wat bewys dat die beskuldigde toegang tot die rekenaars, die aanmeldbewyse of die internetbankprofiele van enige van die klaers gehad het nie,” het Christiaan in haar uitspraak gesê.

Sy het verder gesê daar is geen bewyse dat Nestor die geld wat uit hierdie rekeninge oorgeplaas is, ontvang of voordeel daaruit getrek het nie.

Die aanklagte waarop hy vrygespreek is, hou verband met bewerings dat Nestor Namibië Marmer en Graniet (NAMAGRA) naby Karibib en/of Carmen Bianca Wittreich uit ’n bedrag van N$10 miljoen bedrieg het, asook ’n verdere klag dat hy onder andere Spot-On Discount Liquor en Meransha Eiendomme bedrieg het.

BYKOMENDE AANKLAGTE

Die aanklagte waarop Nestor wel nog teregstaan, het betrekking tot Tayo Namibia.

Nestor het na bewering voorgegee dat Walcon Construction se bankrekening van Bank Windhoek na Standard Bank verander het en dat Taiyo Namibia ’n bedrag van N$720 000 in die Standard Bank-rekening moet betaal vir werk wat reeds voltooi is.

Nestor is tans in aanhouding by die Windhoek Sentrale Gevangenis en het verlede week voor Christiaan in die hoërhof in Windhoek verskyn.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 30° Rundu: 19° | 32° Eenhana: 19° | 33° Oshakati: 23° | 32° Ruacana: 20° | 35° Tsumeb: 20° | 33° Otjiwarongo: 21° | 31° Omaruru: 24° | 33° Windhoek: 23° | 31° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 18° | 23° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 18° | 22° Rehoboth: 24° | 35° Mariental: 26° | 39° Keetmanshoop: 25° | 40° Aranos: 26° | 39° Lüderitz: 19° | 31° Ariamsvlei: 25° | 40° Oranjemund: 17° | 25° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 24° | 37° Lubumbashi: 15° | 21° Mbabane: 16° | 28° Maseru: 17° | 33° Antananarivo: 18° | 23° Lilongwe: 19° | 26° Maputo: 23° | 34° Windhoek: 23° | 31° Cape Town: 20° | 28° Durban: 22° | 27° Johannesburg: 18° | 32° Dar es Salaam: 27° | 32° Lusaka: 17° | 27° Harare: 16° | 28° #REF! #REF!