Die hoërhof in Windhoek Foto argief
Die hoërhof in Windhoek Foto argief

Oudinspekteur faal in hofeis

Hof lewer uitspraak
Hy was 26 jaar lank 'n lid van die Namibiese polisie voor hy in 2020 van sameswering aangekla is om twee renosters te stroop.
Kristien Kruger
’n Voormalige inspekteur van die Namibiese polisie wat in 2020 van sameswering aangekla is met betrekking tot renosterstropery, het misluk in sy uitdaging teen die besluit dat hy ongeskik is om in die polisie te dien.

Wersimus Haipa het die hoërhof in Windhoek genader en aangevoer dat sy ontslag uit die polisie “onwettig” en “onregverdig” was.

Hy het geëis dat hy in sy pos heraangestel moet word en dat die ministerie van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit hom moet vergoed vir die salarisse wat hy sou ontvang het as hy nie afgedank is nie.

Haipa was vir 26 jaar in die polisiemag voordat hy in September 2021 afgedank is op grond van strafregtelike aanklagte teen hom.

Regter Eileen Rakow het die aansoek onlangs van die hand gewys en gelas dat die saak van die rol geskrap word.

STROPERY

Luidens die hofuitspraak is Haipa in Januarie 2020 gearresteer en aangekla vir die oortreding van die wette oor vuurwapens en ammunisie aangesien hy glo met ’n vuurwapen sonder ’n lisensie betrap is.

Hy is ook aangekla van sameswering om beskermde wild te stroop. Hoewel Haipa nie op die misdaadtoneel was nie, het hy glo met die oortreders saamgesweer om die misdaad te pleeg. Hy was destyds by die polisie se afdeling vir beskermde hulpbronne in die Oshanastreek aangestel.

AFGEDANK

Daarna het die destydse inspekteur van polisie, Sebastian Ndeitunga, ’n vergadering belê om te besluit oor Haipa se geskiktheid om as ’n polisiebeampte te dien.

Op grond van die erns van die aantygings teen hom is besluit dat hy nie meer in die polisie mag dien nie.

Haipa het in Julie 2022 by die minister van veiligheid, Albert Kawana, teen dié besluit geappelleer, maar dit is van die hand gewys.

Haipa het in sy hofsaak ook dié besluit van Kawana uitgedaag en aangevoer dat hy nie die saak goed deurdink het nie.

“Gegewe die swak inhoud van die polisiedossier en die afwesigheid van enige goeie bewyse wat die applikant [Haipa] met die misdaad verbind, is dit duidelik dat die respondente nie die aansoek deeglik oorweeg het nie,” het Haipa aangevoer.

UITSPRAAK

Rakow het wel beslis dat die minister en polisie regverdig en redelik opgetree het en dat Haipa versuim het om genoegsame bewyse voor die hof te bring sodat hul optrede en besluite tersyde gestel kan word.

Ingevolge die hofbevel moet Haipa die regskoste vir die aansoek betaal.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 31° Rundu: 19° | 36° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 16° | 34° Tsumeb: 20° | 33° Otjiwarongo: 14° | 30° Omaruru: 15° | 30° Windhoek: 16° | 29° Gobabis: 20° | 35° Henties Bay: 17° | 20° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 20° Rehoboth: 18° | 33° Mariental: 20° | 35° Keetmanshoop: 17° | 34° Aranos: 20° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 16° | 34° Oranjemund: 13° | 23° Luanda: 26° | 28° Gaborone: 21° | 28° Lubumbashi: 17° | 23° Mbabane: 15° | 18° Maseru: 12° | 29° Antananarivo: 18° | 26° Lilongwe: 20° | 24° Maputo: 19° | 27° Windhoek: 16° | 29° Cape Town: 16° | 22° Durban: 17° | 23° Johannesburg: 15° | 25° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 18° | 29° Harare: 18° | 24° #REF! #REF!