GUILTY: Ricardo Nestor at court. PHOTO: FILE
GUILTY: Ricardo Nestor at court. PHOTO: FILE

Oudpolisieman skuldig aan diefstal

Verskyn weer op 23 September in hof
Ricardo Nestor is ook aan geldwassery skuldig gevind, maar onskuldig op aanklagte van vervalsing en uitgifte.
Kristien Kruger
Die voormalige polisiebeampte het gesê hy het gedink die bank het ’n fout gemaak toe N$720 000 in sy rekening betaal is.

Ricardo Nestor kon homself egter nie keer om die geld te gebruik nie. Hy het die geld binne ’n maand onttrek en van die geld in kripto-beleggings belê totdat daar net sowat N$300 oor was.

Nestor is Donderdag in die hoërhof in Windhoek aan diefstal en geldwassery skuldig bevind. Hy bly in aanhouding en sal weer op 23 September in die hof verskyn.

VRYGESPREEK

Dit is ten spyte van die feit dat Nestor aanvanklik op tien aanklagte tereggestaan het ná sy arrestasie in 2019.

Hy is reeds tydens sy verhoor op ses van die aanklagte vrygespreek en is Donderdag onskuldig bevind op twee van die oorblywende vier aanklagte.

Hy is onskuldig bevind op ’n klag van bedrog, maar regter Philanda Christiaan het hom skuldig bevind op die alternatiewe klag van diefstal. Hy is ook aan geldwassery skuldig gevind, maar onskuldig op aanklagte van vervalsing en uitgifte.

AGTERGROND

Die staat het beweer dat Nestor in Oktober 2019 onregmatige toegang tot die rekenaar van ’n direkteur van ’n Walvisbaaise kontruksiemaatskappy gekry het en ’n vervalste faktuur aan ’n maatskappy gestuur het wat vir ’n bouprojek moes betaal.

Op dié faktuur is die bankbesonderhede glo na dié van Nestor s’n verander.

Die direkteur van die betrokke maatskappy het gesê hy het op ’n verdagte e-pos geklik en ’n IT-spesialis het ’n program op sy rekenaar gevind wat afstandtoegang tot sy toestel moontlik maak.

Owerhede het eers op Nestor se spoor beland nadat die bank genader is om te bepaal aan wie die rekening op die faktuur behoort.

Daar is beslag op Nestor se toestelle gelê en vir forensiese ontleding geneem, maar niks is gevind om hom met die kuberkraak of die vervalste faktuur te verbind nie.

In haar uitspraak het Christiaan daarop gewys dat die staat grootliks op omstandigheidsgetuienis gesteun het en daar nie genoegsame bewyse was om Nestor skuldig aan vervalsing of bedrog te vind nie.

“Sy betrokkenheid het eers begin nadat die geld oorbetaal is.”

Christiaan het in haar uitspraak ook daarop gewys dat een van die vereistes vir iemand om aan bedrog skuldig bevind te word, is dat hulle ’n wanvoorstelling moes maak om geld te bekom. Sy het bevind die staat kon nie bewys dat Nestor enige wanvoorstellings gemaak het nie.

Sy het ook in haar uitspraak beklemtoon dat die onus op die staat rus om die klagte bo redelike twyfel te bewys en sy het bevind dat hulle nie daarin geslaag het met betrekking tot die bedrog- en vervalsingsklagte nie.

Volgens die regter is die hof redelik oortuig daarvan dat Nestor se weergawe van gebeure waar kan wees – een van die regsbeginsels waarteen strafsake gemeet word.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 22° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 21° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 20° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 16° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 32° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!