• Tuisblad
  • Howe
  • Ouers sleep skool hof toe oor ‘afknouery’
Die Deutsche Höhere Privatshule (DHPS) in Windhoek. Foto Facebook
Die Deutsche Höhere Privatshule (DHPS) in Windhoek. Foto Facebook

Ouers sleep skool hof toe oor ‘afknouery’

Kind word glo emosioneel afgekraak
Die ouers eis dat die kind na 'n ander graad 10-klas geskuif word om nie meer klasse by die betrokke onderwyser by te woon nie.
Kristien Kruger
’n Egpaar wat beide advokate in Windhoek is, het die Deutsche Höhere Privatshule (DHPS) en ’n onderwyseres hof toe gesleep omdat die skool weier om hul 16-jarige seun na ’n ander klas te skuif.

Die kind se ma beweer in hofstukke dat die onderwyseres wat Duits en geskiedenis vir haar kind gee, hom boelie.

Die onderwyseres en die skool ontken die bewerings.

Die dringende aansoek is gister in die hoërhof in Windhoek voor regter Eileen Rakow aangehoor.

BESTE BELANG VAN KIND

Die ouers beweer dat die onderwyseres hul kind se emosionele en psigologiese welstand nadelig beïnvloed.

“Dit is werklik ontstellend dat ’n persoon wat ons as ouers vertrou het om ons kind te beskerm en in sy beste belang op te tree terwyl hy by die skool en in die sorg van DHPS is, in werklikheid [die kind] emosioneel en sielkundig afgebreek het,” beweer die ma in haar verklaring.

In hul aansoek versoek die egpaar dat die kind onmiddellik na een van die ander drie graad 10-klasse, wat die German International Arbitur (DIA)-kurrikulum volg, oorgeplaas word sodat hy nie meer klasse by die betrokke onderwyseres hoef by te woon nie.

“Ten spyte van ons versoek aan DHPS om dringend op te tree om te verseker dat [die kind] in ’n veilige omgewing by die skool is, misluk DHPS en sy werknemers óf weier hulle om in die beste belang van [die kind] op te tree. Dit deur hom uit die huidige toksiese omgewing te verwyder en om hom na ’n ander klas in die DIA-stroom oor te plaas.”

Die skool het in ’n brief aan die ouers gesê hulle glo dat hul kind gemaklik is met die groep waarin hy is en dat ’n skuif na ’n ander klas moontlik nuwe probleme tot gevolg kan hê.

“Ek twyfel of die probleem – dat [die kind] en [die juffrou] nie met mekaar oor die weg kom – bevredigend deur die oorplasing na ’n ander klas opgelos sal word nie.

“Vanaf graad 11 sal [die juffrou] nie ’n onderwyser van [die kind] wees nie.

“Ondersteun asseblief [die kind] deur hom te bemagtig om ’n goeie manier te vind om die situasie te hanteer in plaas daarvan om die situasie te probeer vermy,” lui die skool se e-pos.

Die egpaar beweer hul kind se houding teenoor die skool het aansienlik verander sedert hy aan die begin van die jaar by dié spesifieke onderwyser begin klas kry het.

“Hy het skielik ongemotiveerd, rebels en baie negatief oor DHPS geword.”

‘NIE GOED GENOEG’

Die kind se ma het in haar verklaring gesê die betrokke onderwyser het in die verlede vir haar man gesê hul kind is “nie goed genoeg vir DIA nie”.

In DHPS se hoofbetoë voer hulle aan dat die kind waarskynlik swak vaar in geskiedenis en Duits, nie as gevolg van die onderwyseres nie, maar eerder die opvoedkundige uitdagings wat hom in die gesig staar.

“Hierdie aanbevelings en waarnemings is dalk nie aangenaam om te hoor nie en dit kan ook [die kind] en die aansoekers [ouers] se gevoelens seermaak, maar [die kind] kan nie geregtig wees op enige beskerming teen die objektiewe waarheid ten opsigte van sy vermoëns in Duits en geskiedenis nie,” het die skool in sy hofstukke gesê.

Die skool het bygevoeg dit sal dalk in die kind se beste belang wees om na die Cambridge-stroom by DHPS te skuif.

SIELKUNDIGDE BEVINDINGS

Die kind se ouers het hom glo na ’n kliniese sielkundige, dr. Manfred Janik, geneem wat bevind het dat die kind rebelse gedrag, angs, ’n negatiewe houding teenoor skool en leer, sosiale onttrekking en ’n algemene ongelukkige of depressiewe houding het.

Die sielkundige het verder vasgestel die kind voel “gediskrimineer en geboelie” deur die onderwyser.

In DHPS se hofstukke verwys hulle na die bevindings van nog ’n sielkundige, Jürgen Hoffmann.

Hoffmann het glo bevind dat die kind verskeie ander uitdagings in die gesig gestaar het wat emosionele lyding tot gevolg kan hê.

Hoffmann het ook verwys na ’n verslag van 2019 wat daarop dui dat die kind destyds soortgelyke emosionele uitdagings ervaar het, voor die betrokke onderwyseres klas vir hom begin gee het.

“[Die kind se] emosionele toestand toon tans ligte abnormaliteite. Daar is aanduidings van onsekerhede en frustrasies wat onder sekere omstandighede in ’n aggressiewe ondertoon kan verander. Met toenemende druk kan emosionele stabiliteit en prestasie-oriëntasie in so ’n mate verswak dat dit tot abnormaliteite kan lei,” is glo in 2019 bevind.

Die skool beweer dat die kind se ouers hierdie inligting reeds sedert 2019 het.

“Al wat gebeur het, is dat die spanning wat deur die eise van Duits en geskiedenis veroorsaak is, in wese ’n toestand vererger wat reeds bestaan het,” beweer die skool in sy hofstukke.

OPLOSSINGS

DHPS het in sy aansoek aangevoer die saak is nie dringend nie en dat daar ’n alternatiewe oplossing vir die ouers beskikbaar is.

“As dit [die kind] se reg op emosionele welstand is wat die applikante probeer beskerm, is daar verskeie alternatiewe oplossings: [Die kind] kan voortgaan in DHPS in die Engelse stroom en op die Cambridge-kurrikulum; of [hy] kan DHPS verlaat en ’n ander skool bywoon.”

Die saak is tot 18 Julie uitgestel vir uitspraak.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 36° Rundu: 20° | 32° Eenhana: 19° | 27° Oshakati: 21° | 27° Ruacana: 20° | 25° Tsumeb: 19° | 27° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 21° | 33° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 18° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 16° | 21° Rehoboth: 21° | 32° Mariental: 22° | 36° Keetmanshoop: 20° | 36° Aranos: 20° | 35° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 14° | 23° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 20° | 24° Lubumbashi: 17° | 31° Mbabane: 16° | 19° Maseru: 15° | 31° Antananarivo: 15° | 34° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 26° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 17° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 17° | 21° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 21° | 34° Harare: 19° | 31° #REF! #REF!