Foto argief
Foto argief

Pa en seun pleit onskuldig

Vermoor glo jonger seun, broer
Die beweerde wrede aanval op die 24-jarige Carlos le Roux het glo tot sy dood gelei.
Kristien Kruger
’n Pa en seun wat beskuldig word van die moord op ’n gesinslid, het vandeesweek in die hoërhof in Windhoek onskuldig gepleit.

Borris le Roux (59) het glo sy 24-jarige seun Carlos le Roux, met die hulp van sy oudste seun en nou medebeskuldigde, Hendrik le Roux (27), in April 2021 in hul huis in Takarania op Mariental doodgeslaan.

Die staat voer aan dat Borris en Hendrik vir Carlos met besemstokke en pype aangerand het. Hy is glo dood weens ’n harde hou teen die kop wat interne bloeding veroorsaak het.

Volgens inligting wat tydens die twee mans se aansoek om borgtog aan die lig gekom het, het Carlos glo probleme met sy geestesgesondheid gehad wat meegebring het dat hy nie kon werk nie. Hy het glo ook ’n toelaag van die staat ontvang.

Volgens die klagstaat het Carlos die aand van 8 April 2021 die beskuldigdes se huis met klippe bestook en vier ruite beskadig. Hy is in die vroeë oggendure van 9 April 2021 dood.

Borris het glo die oggend die polisie gebel en gesê hy het sy seun aangerand, waarna polisiebeamptes die huis besoek het en Carlos se bebloede liggaam in ’n kamer gevind het.



VERRIGTINGE

Beide beskuldigdes het voor regter Philanda Christiaan onskuldig gepleit op die aanklagte van moord en aanranding met verswarende omstandighede.

Hoewel Borris en Hendrik nie vandeesweek ’n pleitverduideliking aan die hof verskaf het nie, het hulle tydens hul destydse borgtogaansoek aangevoer hulle het Carlos uit selfverdediging doodgemaak.

Tydens hierdie week se verrigtinge het Borris en Hendrik van hul swygreg gebruik gemaak en die onus op die staat geplaas om die aanklagte teen hulle te bewys.

Nadat hul pleit van onskuldig aangeteken is, het die staat sy eerste getuies geroep.

Die verhoor duur vandag voort.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-02-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer